Steunpilaar van hegte gesin sterf

Chris Visagie, wat meer as 40 jaar ’n bekende in die verkoelingbedryf was, is op 6 Februarie aan ’n hartaanval oorlede. Chris was 73 en het die vorige dag nog ’n voldag se werk ingesit. Alhoewel hy reeds in 2022 afgetree het, het hy steeds elke dag sy dienste aan mense en besighede aagebied. Hy was 29 toe hy in 1981 na Oudtshoorn verhuis het en as verkoelingstegnikus by die volstruisabbatoir begin werk het. Hy was 41 jaar in hulle diens voor sy aftrede op 70.

Chris is in 1981 met Marina getroud en hulle het twee dogters, Marisca en Yolandi wat elk hulle eie ondernemings bestuur. Marisca is ’n musikant en musiekonderwyser en Yolandi besit ’n restaurant. Mense het Chris en Marina gereeld by hul dogters se ondernemings en optredes gesien waar hulle ondersteuning en hulp aangebied het. Dit was ’n alledaagse gesig as Chris by Marisca se optredes klankapparaat oprig en verstel en hy was gereeld by Yolandi se eetplek om onderhoudswerk te doen.

Marisca het hierdie week gesê: “Ons is ’n baie hegte gesin en elke dag het ons by hom geleer van nederigheid, geduld, verdraagsaamheid, liefde, uithoevermoë en liefde vir God en jou naaste. Hy laat ’n groot leemte. Hy was ’n baie betrokke pa vir ons en ’n wonderlike man vir ons ma.”
Chris het een suster gehad wat ’n paar jaar gelede oorlede is. Sy troosdiens het vandag, Vrydag 14 Februarie om 10:00 uit die AGS Klein Karoo-gemeente plaasgevind waar hy vir meer as 40 jaar ‘n lidmaat was.

Dit is die gesin se tweede afskeid in enkele weke nadat Marina se ma, Johanna Fourie, op 11 Januarie oorlede is. Johanna en haar man, Kobus, het jare lank by Volmoed met volstruise geboer en sy het vir baie jare haar gebak aan tuisnywerhede op die dorp gelewer. (HANNES VISSER)