Meester Christy van St Simons Anglikaanse kerk op 85 gegroet

Sy sal haar oupa onthou vir die familiemens wat hy was en die oneindige liefde wat hy vir sy kleinkinders en agterkleinkinders gehad het.

So het Nina-Rose Clarke, kleinkind van Christopher Smith (85), alom bekend as Meester Christy, ’n oud-onderwyser van die destydse St Simons Anglikaanse Laerskool in Oxfordstraat, Oudtshoorn, tydens sy begrafnisdiens in die St Simons Anglikaanse Kerk gesê.

Smith is op 29 Januarie 2025 na ’n maand in die hospitaal oorlede.

Hy was ’n kuns- skrif- en Afrikaansonderwyser wat sy onderwysopleiding aan die Randse Onderwyskollege in Johannesburg ontvang het en in 1960 met sy onderwysloopbaan by die Newclair Primêre Skool in Johannesburg begin. Aan die einde van 1962 het hy na Oudtshoorn, sy geboortedorp, teruggekeer en begin onderwys gee aan die St Simons Primêre Skool.

Na die sluiting van dié skool in 1977 het hy sy onderwysloopbaan aan die Laerskool de Villiers voortgesit totdat hy daar die tuig neergelê het.

Smigh laat laat sy vrou, Felicity, vier dogters, Karen, Nadine, Sanchia en Thea, twee skoonseuns, Isaac en Cedric, sewe kleinkinders en drie agter-kleinkinders agter. (GARNETT WICOMB)