Sentrum open moontlik April ’25

Bo: Voorstellings van hoe die inkopiesentrum sal lyk. Foto verskaf Onder: Die inkopiesentrum sal op die hoek van Langenhoven en Rademeyerstraat wees. Foto verskaf

OPWINDENDE nuus vir Oudtshoorniete is die bou van ’n nuwe inkopiesentrum, wat beplan word op die hoek van Langenhoven en Rademeyerstraat. Die inkopiesentrum, genoem Klein Karoo Markt, is op Vrydag vir die eerste keer op Facebook aan die publiek bekendgestel.

Vlagskipwinkels soos Checkers, Woolworths, Dischem en Food Lovers Market stel reeds belang om in die sentrum oop te maak, wat teen April 2025 voltooi sal wees. Daar sal in totaal sowat 38 winkels wees en die sentrum sal 13 000 m² groot wees.

Dit blyk volgens kommentare dat Oudtshoor-niete opgewonde is oor die nuwe projek, veral met die vooruitsigte van groot ketting-winkels, en dat daar nie George toe gery moet word vir inkopies nie. Die ontwikkelaars van hierdie projek is Dorpstraat, wat met verskeie suksesvolle projekte in portefeulje van 21 soortgelyke projekte spog soos Linden Lanes in Johannesburg, Stellenbosch Square in Stellenboch en Robertson Square in Robertson, om maar ’n paar te noem, en nog 14 nuwe projekte in die pyplyn waarvan Oudtshoorn se Karoo Markt een is.

“Die konstruksie en bedryf van hierdie winkelsentrum sal talle nuwe werksgeleenthede vir plaaslike inwoners skep.”

“Dit kan ook ’n hupstoot tot die dorp se ekonomie wees, en werk aan ‘n groot diverse verskeidenheid persone verskaf,” lui ’n gedeelte van hul inskrywing op wat op Facebook geplaas is.