Oudtshoorn is platgeslaan deur drie tragedies wat die afgelope week plaasgevind het.
Leah Pockpas (42) het op 1 Oktober in die Olifantsrivier verdrink in die Welbedacht-omgewing net buite Oudtshoorn.
Haar liggaam is op Maandag, 2 Oktober deur polisieduikers by Nooitgedacht, Calitzdorp, uit die rivier gehaal.
Daar sal die week ’n lykskouing gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.
’n Brand in die laatnag ure van Maandag, 2 Oktober, in Steenbokweg, Bridgton, het die lewens van ’n ma en seun geëis.
Shirley Bezuidenhout (49) en haar seun, Warren (15), het in hul opslaanhuis doodgebrand nadat daar na bewering ’n kers omgeval het.
Op ’n navraag van Die Hoorn aan Sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het hy die volgende geantwoord.
“Polisie is ontbied na ’n perseel in Steenbokweg, Bridgton. Met hul aankoms het hulle ’n wendyhuis gevind wat afgebrand het. Twee liggame is onder die puin gevind. Die oorsaak van die brand is nog nie bevestig nie, maar die speurders is besig om dit te ondersoek.”
Daar sal Maandagmiddag, 9 Oktober om 14:00 ’n kranslegging by die huis in Steenboklaan plaasvind.
In ’n derde tragiese gebeurtenis, het ’n huis op Dinsdag, 3 Oktober om ongeveer 14:00 die middag, in Elandweg, Bridgton afgebrand.
Brian Baartman (52), ook bekend as Pensie, het na bewering in dié brand omgekom.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en die polisie is besig om die saak te ondersoek. (Deur Lindi Brill)
Drie tragedies ruk dorp
Die afgebrande huis waarin Shirley Bezuidenhout en haar seun, Warren, hul lewe verloor het tydens ’n brand op Maandag, 2 Oktober. Foto: Lindi Brill