Senior Kannaland-amptenare in hof vir R338miljoen se bedrog

VIER senior amptenare wat daarvan aangekla word dat hulle die Kannaland Munisipaliteit uit meer as R338 miljoen bedrieg het, het verlede Woensdag (26 Januarie) vlugtig in die Oudtshoorn Streekhof verskyn.

Dit was hul eerste verskyning in die streekhof.

|McGrandile Makier, menslike hulpbronnebestuurder, Hendrik Barnard, direkteur: korporatiewe dienste, Morné Hoogbaard, munisipale bestuurder, en Nigel Delo, voormalige hoof van finansies, word van bedrog en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur aangekla.

Hulle het na bewering die munisipaliteit uit dié miljoene bedrieg deur onder meer bedrieglike aanstellings in senior poste en onregmatige oortyd- en verlofuitbetalings te doen.

Makier, Barnard en Delo is op 25 November verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem terwyl Hoogbaard homself later aan die Polisie oorgegee het.

Borgtog van R15 000 is in die Ladismith Landdroshof aan elkeen toegestaan en die saak is oorgeplaas na die Oudts­hoorn Streekhof.

Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak vir ’n voorverhoorkonferensie tot 23 Februarie uitgestel en die vier be­skul­dig­des se borgtog en borgvoorwaardes tot dan verleng.

Daar is ook bekend gemaak dat adv Razia Valley-Omar van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging as aanklaer in die saak sal optree. (Deur Garnett Wicomb)