Voertuigbestuurder gesoek ná tragiese tref-en-trap-sterfte

Die botsingstoneel waar Denzel Latell met sy lewe geboet het. Foto: Deon Meyer

DIE Ladismith Polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 29-jarige man van Ladismith, Denzel Latell, tydens ’n tref-en-trap-voorval sowat 15 km buite die dorp gesterf het.

Daar was geen voertuig op die toneel waar Latell se lyk gevind is nie.

Die botsing het op Sondag, 23 Ja­nuarie, plaasgevind.

Die Polisie probeer nog vasstel wie die bestuurder was van die voertuig wat Latell getref het.

Geen verdagte was by die ter perse gaan van Die Hoorn al in hegtenis geneem nie.

Sers Crawley van die plaaslike speurtak het lede van die publiek gevra om nie te skroom om hom te kontak indien hulle oor enige inlig­ting oor die voorval beskik nie.

Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, word ’n nadoodse ondersoek gedoen.

Familie van die oorledene was te hartseer om oor die voorval te praat. (Deur Deon Meyer)