KKNK-program einde Februarie bekend

Chrispin Sonn voorsitter van die Kunste Onbeperk-direksie.

DIE program vir vanjaar se 26ste KKNK, wat van 29 Maart tot 3 April op Oudts­hoorn plaasvind, sal teen einde Februarie bekend gestel word met kaartjieverkope wat net daarna open.

Die KKNK kon as gevolg van die Covid-19-pandemie nie in 2020 of 2021 plaasvind nie.

En ook nou, in 2022 met Covid-19 wat steeds met ons is, sal die KKNK noodgedwonge anders lyk.

Crispin Sonn, voorsitter van die Kunste Onbeperk-direksie, sê Covid-19-maat­reëls sal by byeenkomste toegepas word “sodat ons na die veiligheid van fees­gangers, kunstenaars, personeel en die plaaslike gemeenskap kan omsien en op ’n verantwoordelike manier kan saam­kuier.

“Dit is nie maklik om ’n fees, waar mense in noue kontak met mekaar moet omgaan, aan te bied nie én steeds die veiligheidsfaktor toe te pas, sonder dat ons aan sekere sleutelmaatreëls sal moet voldoen.

“Dit sluit in dat ons ’n inentingsmandaat sal toepas in ooreenstemming met en ter onder­steuning van aanbevelings deur gesondheidsowerhede,” het Sonn gesê.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê lokale sal byvoorbeeld ingevolge huidige regulasies net 50% vol mag wees.

Daar word steeds beoog om musiek­konserte in die buitelug aan te bied en daar sal wel ’n mark-area wees, het hy gesê.

“Ons sien daarna uit om weer kuns in die hartjie van die Klein Karoo te vier. Dit is vir ons heerlik om met nuwe oë na die fees te kyk.

“Meeste van die gewilde elemente word aangebied, maar alles word op ’n nuwe manier verpak om nuwe ervarings te skep wat veilig binne Covid-19-riglyne aangebied kan word.

“Ons nooi jou uit om aan die einde van Maart in die Klein Karoo te kom asem skep.”

En hoewel daar groot blydskap was dat ’n kunstefees wel weer aangebied gaan word, was daar ook talle mense wat op sosiale mediabladsye hul ontevredenheid met die verpligte Covid-19-inentingsmandaat uitgespreek het.

• Verblyfbesprekings vir vanjaar se KKNK kan deur die Groter Oudtshoorn Toerismekantoor by tel 044 279 2532 gedoen word, of kontak andersins die feeskantoor by tel 044 203 8600 vir meer inligting.

• Indien jy die eerste wil wees om kaartjies te bespreek, sluit aan by die Vriende van die KKNK-klub. Vir nog inligting kan Daleen Witbooi ook gekontak word by info@kunste.org.za. (Deur Liesel le Roux)