Kannaland se maand van politieke woelinge en van onsekerheid

Lede van die publiek het die biblioteeksaal in Ladismith Maandag bestorm.

Jeffrey Donson, president van Icosa, wys die skorsingsbriewe van Valentyn en Stuurman aan inwoners en die media.
Foto’s: Deon Meyer

2022 in Kannaland het op munisipale raadsvlak stormagtig afgeskop met meningsverskille onder raads­lede van die onderskeie partye.

Na 2021 se verkiesing het Icosa se drie raadslede, die ANC se twee raadslede en die Kannaland Independent Party (KIP) besluit om saam te werk, maar na ’n landwye en selfs wêreldwye herrie nadat inligting oor vroeëre vonnisse teen Icosa se burgemeester Jeffrey Donson (ver­kragting van ’n minderjarige) en Icosa se onderbur­gemeester Werner Mes­hoa (bedrog) bekend geword het, het die prentjie verander.

So het die afgelope twee weke verloop:

19 Januarie – Icosa-leiers verwyder deur mosies, ANC-leiers geskors
Die raad se drie Icosa-leiers (burgemeester Jeffrey Donson, onderburgemeester Werner Meshoa en Tuinroete Distrikverteenwoordiger Hyrin Ruiters) word op 19 Januarie by ’n raadsvergadering na mosies van wantroue deur die ander vier raadslede uitgestem.

Die nuutverkose ANC-burgemeester en -onderburgemeester, is Nickey Valentyn en Leonie Stuurman. Hulle word egter enkele dae later deur die ANC geskors op grond daarvan dat hulle ’n besluit van die provinsiale en nasionale komitees om nie ’n koalisie met die DA te sluit nie, geïgnoreer het.

Valentyn en Stuurman appeleer teen hul skorsing en wag nog op terugvoer.

Donderdag 27 Januarie – Nee vir Icosa by Hooggeregshof

Pogings van die drie Icosa-raads­lede wat hulle tot die Kaapse Hooggeregshof gewend het om die mosies van wantroue teen hulle nie­tig verklaar te kry, misluk.

Regter J le Grange wys hul aansoek met koste van die hand.

Maandag 31 Januarie – Raadsvergadering in chaos as gevolg van meningverskille
Deon Meyer berig dat ’n raads­vergadering van die Kannaland Munisipaliteit wat in die plaaslike biblioteeksaal gehou is, Maandag in chaos geëindig het toe lede van die publiek die vergadering binne gestorm het.

By die vergadering is die ANC se skorsing van Valentyn (burgemeester) en Stuurman (onderbur­gemeester) onder meer bespreek. Met ’n groot polisieteenwoordigheid op die toneel het woorde oor en weer tussen ANC- en Icosa-ondersteuners gevlieg, met Icosa-ondersteuners wat aangevoer het die vergadering is onwettig omdat die twee nie meer hul party verteen­woordig het nie.

Donson het die skorsingsbriewe van Valentyn en Stuurman buite die gebou aan lede van die publiek en die media gewys.

’n Skrywe van die ANC Provinsiale Interimkomitee op 28 Januarie 2022 aan Kannaland se munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard, dui inderdaad aan Valentyn en Stuurman is deur die ANC geskors en nie meer lede van die organisasie is nie.

Hoogbaard het op grond hiervan Maandag ’n brief aan die Onafhank­like Verkiesingskommis­sie (OVK) gerig waar­in vakatures vir die twee raadsposte verklaar word.

Valentyn het egter aangevoer hulle is volgens party-protokol steeds raads­­­lede omdat hulle teen die skor­sing geappelleer het en die nodige prosesse nog nie afgehandel is nie en die appèl nog eers deur Luthulihuis aangespreek moet word.

• Die Wes-Kaapse minister van plaas­like regering, Anton Bredell, het gister aangedui dat hy die verwikkelinge in Kannaland dophou.

“Dit is kommerwekkend aangesien munisipaliteite stabiliteit benodig om te kan funksioneer. Ons moet egter ook die demokrasie en gepaardgaande prosesse respekteer, solank dit wettig geskied. (Deur Liesel le Roux)