Ons is moeg, sê Oudtshoorn ACT se dierewelsynvrywilligers…­

Die toestand waarin vrywilligers van ACT meerendeels die diere wat hulle help, vind. (Foto’s verskaf)

DIEREWELSYNVRYWILLIGERS op Oudtshoorn is moeg, oorval met sake waar hulle moet ingryp, en bekommerd oor die algemene stand van dierewelsyn in die omgewing, veral met dié dat befondsing en bystand van die gemeenskap min is, en soms glad nie bestaan nie.

So sê Elmarie Swiegers wat namens een van die dierewelsynorganisasies op Oudtshoorn, Animal Care Team (ACT), dringend met Die Hoorn kom gesels het om inwoners van die dorp bewus te maak oor wat vrywilligers daagliks, weekliks en maandeliks moet deurgaan.

“Mense moet begin verantwoordelikheid neem vir hul diere, en ek praat van almal – van die rykste tot die armste inwoners in ons gebied.

“Julle besef nie die impak wat ons werk op ons emosies en persoonlike lewens het nie.

“Ons is byvoorbeeld oorval met diere wat deur hul eie­naars agtergelaat word wanneer hulle met vakansie gaan of wegtrek.

“Ons word konstant uitgeroep na gru-gevalle toe waar ons mishandelde en verminkte diere moet red uit hul omstandighede, om nie eens te praat van mense wat weier om hul diere reg te maak met kleintjies wat die heeltyd gebore word, en mense wat ons verbaal en fisiek aanrand.

“Ons maak diere reg, ent hulle in, versorg hulle en neem hulle selfs veearts toe.

“Soms moet ons die moeilike besluit neem om siek diere, partykeer ook gesonde diere en baba­diere, uit te sit by die veearts. En ons doen dit alles met baie min of selfs geen befondsing of ondersteuning nie,” het ’n bedroefde en hoogs ontstelde Swiegers vertel.

ACT is ’n nie-winsgewende organisasie wat spesifiek probeer omsien na diere-eienaars en hul diere in ekonomies benadeelde gemeenskappe, diere van Sassa-kaarthouers en werkloses wat hulp van niemand anders ontvang nie. In 2020 onder druk van Covid-maatreëls het hulle meer as 650 diere gesteriliseer, en byna 600 diere behandel, geopereer, uitgesit en ontwurm. ACT het 21 uitreikings in daardie moeilike jaar uitgevoer, en dus, volgens Swiegers, het hulle byna 1 300 diere op een of ander manier gehelp.

In 2021 is byna 1 700 diere bygestaan op dieselfde maniere as hierbo genoem.

Sy kon nie kommentaar lewer op die ander dierewelsynsorganisasies op Oudtshoorn nie, maar het bygevoeg dat almal op die oomblik swaar trek.

Swiegers is van mening dat die gemeenskap en sakelui op die dorp op groot skaal moet begin intree wanneer dierewelsynorganisasies ter sprake is.

“Die munisipale diereskut het ’n sekere mandaat om slegs met rondloperdiere te werk. Hulle het nie die bemagtiging om byvoorbeeld by ’n erf in te gaan om mishandelde of verwaarloosde diere weg te vat nie. Dit is waar dierewelsynorganisasies inkom; ons het landdrosmagtiging. Dit vereis dat ons munisipale wetgewers saamneem, soms ook skutpersoneel, die dier verwyder en dan ’n saak open.

“Maar mense daag nie eens op vir sulke hofsake nie! Ons hande is eintlik afgekap,” vertel sy.

Sy voeg by hulle voer soms ’n eindelose stryd, en dit het ’n baie negatiewe invloed op vrywilli­gers se emosionele welstand.

Volgens Swiegers kan bydraes van die gemeenskap help om hierdie kwessies aan te spreek. “Dit kan ons in staat stel om na diere om te sien, om veeartsrekeninge te betaal, om petrol in ons voertuie te gooi, en selfs kos te koop, maar ook om bewusmakingsveldtogte te doen. Ons vra inwoners en sakelui om betrokke te raak; ons het dit brood­nodig!”

“Almal kla oor rondloper- of mishandelde diere, maar hulle wil nie betrokke raak nie.

“Al skenk jy net kos, of dra by tot ons petrol, of veeartsrekening; help net met iets, asseblief,” het sy gesmeek.

Volgens Swiegers werk alle organisasies op Oudtshoorn saam, al het hulle verskillende doelwitte. As jy een dus help, help jy die ander. “Ons ondersteun mekaar, want ons werk almal vir die diere se beswil.

Ons vat mekaar se hande, maar ons het die breër gemeenskap nodig, want op die oomblik ondersteun hulle ons nie.” (Deur Stefan Skapie Goosen)