Selfoonsaak teen 13 mans uitgestel vir uitspraak

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen 13 mans van Oudtshoorn wat glo die eienaars van drie spazawinkels van onder andere kontant en selfone beroof het, is vir slotargumente en uitspraak in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel nadat die beskuldigdes besluit het om nie self in die saak te getuig nie.

Cheslin Bruintjies (23) Cordwill May (19), Patrick Malgas (47), Dawid Swarts (32), Corné Kammies (27), Sam Olckers (35), Ashwill Oosthuizen (33), Numfriano Meyer (18), Patrick Fortuin (21), Wayne Johannes (22), Johan Goliath (39), Andrew Esau (24), Andrew Witbooi (19) en Henry Fortuin (30) staan tereg op klagtes van roof nadat hulle na bewering op 10 Januarie 2017 drie winkeleienaars in Petunialaan, Bridgton beroof het.

Hulle pleit onskuldig.

Die klagtes teen ’n veertiende verdagte, Ashwill Oosthuizen, is na ’n ontslagaansoek deur die staat teruggetrek.

Streeklanddros Neels Nortje het die saak tot 1 Maart 2019 uitgestel.