Barend Smit (naasregs), eienaar van die Riempie Protea Hotel wat saam met die Oudtshoorn munisipaliteit ’n kunswedstryd vir laerskoolleerders gaan aanbied. By hom is (van links) Colan Sylvester, burgemeester, Phillip Jaftha, WKOD-koördineerder: skeppende kunste, en Murray-Wayne Konnie, ouer, wat almal betrokke is by die kunswedstryd.
Deur Schalk le Roux
DIE eienaar van die Riempie Protea Hotel, Barend Smit, het met die samewerking van die Oudts-hoorn Munisipaliteit ’n kunswedstryd vir leerders van grade 5, 6 en 7 van die Groter Oudtshoorn geloods.
Die hotel en die munisipaliteit sal die pryse vir die wenners in die onderskeie grade borg.
By elke skool sal daar ’n wenner aangewys word. Al die wenners se werke sal op Vrydag, 8 Februarie, by die Riempie uitgestal word. Elkeen van dié wenners wen ’n kontantprys van R300.
Die uitstalling val saam met ’n besoek van ’n groep veteraanmotoreienaars wat die aand van Donderdag, 7 Februarie, by die Riempie oornag. Die groep ou motors is op pad na die George Motorskou wat die betrokke naweek op dié buurdorp plaasvind.
Arthur Gillis, ’n oud-Oudtshoorniet en voormalige besturende direkteur van Protea Hotels wat in 2014 aan Marriott verkoop is, is die organiseerder van die toergroep van sowat 30 veteraanmotors wat die skou gaan bywoon.
Die veteraangroep sal tydens die skolekunsuitstalling die Vrydagoggend by die hotel onthaal word tydens ’n geselligheid wat ook deur onder andere die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, die leerders en hul skoolhoofde bygewoon sal word.
Tydens die geselligheid sal uit al die wenners van die onderskeie grade ’n algehele wenner, naas-wenner en derde plek aangewys word. Die wenner gaan R2300 ontvang, die naaswenner R1300 en die leerder in die derde plek R800.
As deel van die leerders se beloning vir hul deelname aan die kunswedstryd sal hulle die geleentheid kry om ’n draai in die veteraanmotors deur Oudtshoorn te ry.
• Barend en sy vrou, Susanne Smit, wat twee jaar gelede die Riempie gekoop het, het die afgelope tyd baie opknappings by die hotel aangebring.
Al veertig kamers, die restaurant en die kon-ferensielokaal in sy geheel is opgeknap.
Die kunswedstryd en onthaal dien nie net as bevordering van die kunste in die Klein Karoo nie, maar ook as ’n gebaar om aan die gemeenskap van Oudtshoorn dankie te sê vir hul ondersteuning oor die afgelope 2 jaar.
• Gillis het toe hy nog jonk was by die Riempie Hotel gewerk voordat hy die sakewêreld met groot sukses betree het. Onder sy leierskap het die Protea Hotelgroep van vier hotelle tot meer as 130 hotelle in sewe Afrikalande gegroei.
Gillis is tans die hoof- uitvoerende beampte van Platinum Hospitality Holdings, ’n vooraanstaande hotelbatebestuursmaatskappy.