See eis kranige rugbyspeler

Gaylon Piedt (26) wat sedert Saterdag vermis word nadat hy deur ’n fratsgolf meegesleur is. Foto verskaf

Foto: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE liggaam van die Oudtshoorniet Juandre Gaylon Piedt (26) wat verdwyn het terwyl hy Saterdag in die see by Leentjiesklip by Wildernis ge­swem het, was teen druktyd gister nog nie gevind nie.

Familie en vriende van Piedt, ’n kranige rugbyspeler van die Bridgton Rugbyklub, was vandeesweek erg geskok deur sy vermoedelike verdrinking.

Piedt se verloofde, Andrea Jooste, sê sy het Saterdagoggend die tyding gekry dat hy omstreeks 11:00 verdrink het nadat hy in ’n watermaalgat getrap en daarna deur ’n fratsgolf meegesleur is.

“Hoewel alles nog nie by ons ingesink het nie, huil ons onophoudelik vandat ons die nuus gekry het,” het sy gesê. “Hy was so ’n liefdevolle pa vir ons kinders en goedgemanierde mens wat baie stil was.”

Hulle dogters, Lameez en Charlin, is onderskeidelik vier en sewe jaar oud.

Jooste, haar ouers en dogters het Sondag die toneel van Piedt se ver­dwyning by Leentjiesklip besoek.

“Ons sal net bitter graag wil hê dat die see sy liggaam vir ons moet teruggee sodat ons finaal berusting kan vind,” het Piedt se ouma, Gertrui­da Lourens, die week in trane gesê. Sy het hom grootgemaak en hy het by haar gewoon.

Lourens vertel dat ’n taxi Piedt Vrydagaand kom oplaai het. “Hy het vlugtig aan my genoem dat hy en paar vriende van

Volmoed see toe gaan en dat hy weer Sondag sou terugkeer.

“My hart is aan flarde geskeur omdat Gaylon ’n goeie kind was wat my nie probleme gegee het nie.”

Die hoofafrigter van die Bridgton Rugbyklub, Mario Jansen, sê Piedt sal onthou word as ’n speler wat altyd respek gehad het vir diegene met gesag en vir sy hoë werketiek tydens oefeninge. “Namens die klub wil ek ons innige meegevoel betuig teenoor sy familie, vriendin en twee kinders.”

Duikers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die week voortgegaan om na Piedt se liggaam te soek. ’n

Uitgebreide soektog van die kuslyn en die see Saterdag na die voorval het niks opgelewer nie. Rook van die brande in die Suid-Kaap bemoeilik ook na verneem word die soektog.