Versigtig oor Outeniquapas

Die Outeniquapas na die afgelope week se brande. Foto: Deidre Cloete op Facebook

Deur Liesel le Roux
PADGEBRUIKERS is gister gewaarsku om versigtig oor die Outeniquapas tus­sen Oudtshoorn en George te bestuur en op die uitkyk te wees vir vallende klippe of selfs boomtakke.

Volgens ’n verklaring van die George Munisipaliteit wat gistermiddag uitge­reik is, word die pas tans ondersoek vir moontlike grond­ver­skuiwings of -erosie as gevolg van die vernietigende brande van die afgelope week. Die verklaring waarsku ook dat brande periodiek kan opvlam en rook kan veroorsaak.

Die Outeniquapas was dae lank die afgelope week gesluit as gevolg van veldbrande in die omgewing van die Outeniquapas, onder meer by Herold.

Sowat 48 000 ha plantegroei is in die brande verwoes, terwyl agt mense ge­sterf het. Honderde mense moes ook hul huise ontruim.

Dit was inderdaad ’n week van ekstreme hoë temperature, sterk winde en brande.

Die brand by Herold asook riete wat in die Olifantsrivier by Oudtshoorn gebrand is, het Oudts­hoorn sedert verlede Woensdag vir dae in ’n rookwolk gehul.

Volgens Hein Jonker van die Saag Jonker Boer­dery het hul grond by Louvain in die Herold-om­gewing ook erg onder die brande – aangejaag deur sterk winde – deurgeloop. Groot bome en veld is deur die vuur verwoes.

“Geen skade is gelukkig aan enige strukture aangerig nie. Daar is egter waterpype en ook ’n paar kabels wat as gevolg van die brande gesmelt het. Maar ons is baie dankbaar dat ons skade nie erger was nie,” het hy gesê.

Teen Maandag het dit ook hoog in die Swartbergpas aan die Prins Albert-kant begin brand by Malvadraai, Schol­tzekloof en in die Damaskusgebied, met brandbestryders van die Prins Albert Mu­nisipaliteit wat die aand op die pas moes vlam­me blus.’n Brand het die aand ook tussen Ladismith en Riversdal in die Garciapas uitgebreek.