Preston Titus-moordsaak nou na hoër hof

Maandag by die Preston Titus-moordsaak: Princess Klip, moeder van Sixabiso Klip (links bo), Maggie Titus (regs bo) en familielede van Preston Titus wat van Worcester gereis het vir die hofsaak (onder). Foto’s: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE vier verdagtes wat van moord op die soldaat, Preston Titus, aangekla word, sal van 25 Februarie tot 22 Maart 2019 in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn verhoor word.

’n Voorverhoor ter voorbereiding van die hooggeregshofsaak word op 15 November op George gehou.

Dié datums vir die verhoor is Maandagoggend tydens die verskyning van die vier verdagtes, Titus se weduwee en ANC-raadslid Magda­leen (Maggie) Titus, Na­tas­hia Stuurman, Masimthembe (MJ) January en Justice Mooi deur die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, bekend ge­maak.

Die vier staan tereg op klagtes van moord met voorbedagte rade en die besit van gevaarlike wapens.

Familielede van die vermoorde Titus wat spesiaal vanaf Worcester gekom het vir Maandag se hofverrig­tinge, asook die talle hofgangers wat hulle ondersteun, het hul tevredenheid met die verloop van die saak uitgespreek.

Princess Klip, die moeder van Six­a­bisu Klip wat ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en reeds 15 jaar tronkstraf opgelê is, het ook gesê sy is tevrede. Haar seun het in sy pleit­­ooreenkoms aangedui dat hy in die saak teen die vier sal getuig.
Volgens sy moeder gaan dit goed met hom.
Preston Titus se suster, Lucinda, het gesê hulle is gelukkig met die verloop van die saak maar jammer dat dit nie in Kaapstad sal plaasvind nie.
“Om elke keer so ver vanaf Worcester na Oudtshoorn te reis is nogal ’n duur storie,” het sy gesê.
“Ons is egter bly dat die saak in die hooggeregshof verhoor sal word en glo die moordenaars van my broer sal aan die man gebring word.”