
Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) is ’n nie-winsgewende professionele vereniging vir publieke- en privaatsektor mediese praktisyns. Die vereniging het ten doel om mediese praktisyns te ondersteun, asook om op nasionale vlak as spreekbuis vir dokters se belange op te tree.
Die algemene gesondheid van Suid-Afrikaners word as motivering gesien.
SAMA moet op die stadium ’n al hoe meer toenemende rol in die politieke invloed en bestaansreg van die hele mediese professie sowel as die behoud van goeie mediese versorging van die bevolking speel.
SAMA word daagliks konfronteer met absoluut belaglike en kommerwekkende idees van totaal oningeligte politici wat ’n onrusbarende baasspelerige en letterlik sinlose rol in besluitneming oor die mediese rol wil speel, dinge waarvoor hulle nie die opleiding of insig het nie.
Met alle respek, lyk dit tog of openlike korrupsie, swak beplanning, gebrekkige kommunikasie en nepotisme in elke besluit, soos in alle ander staatsondernemings, die belangrikste inisiatief en motivering in besluitneming speel, ongeag alle aanduidings dat die hele Nasionale Gesondheidstelsel (NGV) tot mislukking gedoem is.
Ons land het eenvoudig nie die finansies, infrastruktuur, fisiese fasiliteite, administratiewe vermoëns, farmaseutiese verspreidingsnetwerk en veral personeel om naastenby aan die vereistes van volkome gesondheidsdiens aan 80 miljoen pasiënte te lewer nie. Dit klink soos die nagmerrie of hersenskim van besetenes!
Groot bedreigings soos die “Certificate of need” waar die staat homself die reg toeëien, waar en wanneer dokters mag werk is met ’n betoging van 3 000 SAMA lede voor Caspirs en masjiengewere in 1996 by die parlement gestuit en uit die wetsboek geskrap.
Die Departement van Gesondheid (DOH) begin nou weer met die gedagtes speel en wetgewing daarvoor is al in gevorderde stadium.
Dit sal die bewegings, werk vryheid en opleiding van veral jong dokters erg voor hande lê en nog meer die land laat verlaat.
Kubaans-opgeleide dokters wat nie eers die minimum vereistes van toelating tot mediese keuring in SA kon haal nie en ’n totaal volks-en-klimaatsvreemde kursus van korter duur verwerf het, word sonder die nodige toelatingsvereistes (wat alle buitelandse dokters, selfs die met 3-4 nagraadse kwalifikasies), hier moet aflê net eenvoudig vrylik toegelaat.
Terwyl meer as 700 van ons eie goed gekwalifiseerde geneeshere, bekend met ons land se siektes, kulture en tale, werkloos in hulle eie land is!
SAMA is ook aktief betrokke by die landswye teenkanting teenoor die Nasionale Gesondheidplan wat net eenvoudig onmoontlik is.
Die plaaslike tak sowel as takke landswyd voorsien beurse aan behoeftige mediese studente en gee ook hulp aan kollegas wat hulleself nagraads hier of oorsee verder tot ons gemeenskap se voordeel wil bekwaam.
Finansiële hulp en bystand, waarsonder hulle eenvoudig nie gemaklik sal kan leef nie, word ook aan weduwees en wese van SAMA lede verskaf. SAMA het tans 9 takke landswyd, waarvan die Outeniqua tak in die Suid-Kaap gesetel is.
Dr Wessel Vermeulen is al vir tientalle jare die voorsitter van die Outeniqua-tak, en onder sy leiding maak SAMA ’n daadwerklike verskil in die lokale gemeenskap. Tans ontvang ses mediese studente ruim studiebeurse op verskillende universiteite.
Die vereniging is ook betrokke by ondersteuning van instansies soos Eljada, meer spesifiek die Autisme sentrum, verskeie ouetehuise, Tuberkulosehuise, landelike skole met studie en leerhulpmiddele asook (in samewerking met Hennie Baardman van SARU) die organisering, finansies en sportdrag met etes by rugby byeenkomste op plase.
Verdere indiensopleiding, simposiums en kongresse. Om by te dra tot mediese praktisyns se etiese bewuswording, het die Outeniqua-tak onlangs saamgespan met die Suid-Kaap Biotiese vereniging om ’n etiek-lesing vir mediese praktisyns in die Suid-Kaap aan te bied.