
Na 52-jaar as dokter, het dr Johan Lötter, op 29 Februarie 2024 afgetree.
Dr Lötter was vir verskeie jare ’n betroubare dokter by dr Vermeulen se praktyk in St Johnstraat, en toe later weer by sy praktyk by die Mediclinic op Oudtshoorn.
“Johan Lötter is ’n mens met integriteit en onbesproke karakter. Hy is ’n eerlike en opregte persoon, met ’n gelykmatige rustige persoonlikheid wat net eenvoudig geen vyande gehad het nie,” het dr Wessel Vermeulen aan Die Hoorn gesê oor sy jarelange vennoot.
Dr Vermeulen voeg by dat dit vir hom ’n wonderlike voorreg was om vir jare saam met dr Lötter te kon werk, en dat hy hul vriendskap vir ewig sal koester.
Dr Lötter het in Hanover, in die Noord-Kaap, grootgeword en later aan Hoër Jongenskool Paarl in 1964 gematrikuleer.
Hy verwerf sy eerste mediese graad in 1972 aan die Universiteit van Pretoria, en besluit om te spesialiseer in huisartskunde. Op Boshoff in die Vrystaat praktiseer hy vir die eerste keer as algemene praktisyn, en later op Springfontein, ’n klein plaasdorpie, ook in die Vrystaat.
In 1987 arriveer dr Lötter op Oudtshoorn en werk as dokter by Danie Myburg se praktyk.
In 2007 sluit hy by dr Wessel Vermeulen aan. Drs Vermeulen en Lötter stap reeds vanaf 1982 ’n pad saam toe hul albei in die Boekenhout koshuis by die Universiteit van Pretoria was.
Dr Lötter is ook ’n kranige sportman en het uitgeblink in rugby op skool en later as student op Tukkies. Hy was ook ’n knap tennisspeler en het baie jare fiets gery. “Hy het met sy sterk bene, fietse flenters getrap,” skerts Vermeulen.
Die mediese profesie op Oudtshoorn sal dr Lötter beslis mis, veral sy mooi rustige invloed en voorbeeld wat hy op almal uitgeoefen het.
“Ons wil ook baie dankie sê aan Petro, sy vrou, wat hom jare lank ondersteun het, asook aan hulle drie kinders, Sunette, Gerhard en Ouboet Johan. Jul as gesin het diep heuglike spore in Oudtshoorn getrap,” sluit Vermeulen af.

Daar is tydens die afskeidspartytjie saam gekuier, staaltjies gedeel en heerlike eet- en drinkgoed geniet.