Simposium oor bystandsdood tydens SAMA konferensie

Bo: Prof Willem Landman, sy vrou Thea en dr Engela Lange.

Op Donderdag 7 Maart het ongeveer 95 mediese praktisyns, susters en etiek-belangstellendes byeengekom by die Protea Hotel, George, om te luister na prof Willem Landman se lesing oor bystand-dood. Prof Willem Landman was die hoof-uitvoerende beampte van EthicsSA en is ook betrokke op die uitvoerende komitee van Dignity SA.

Die funksie is geïnisieer deur die Suid-Kaap Bioetiese vereniging in samewerking met SAMA Outeniqua-tak.

Die Suid-Kaap Bioetiese vereniging se visie is om biomediese etiek in die Suid-Kaap te promoveer, stimuleer en ontwikkel deur gereelde besprekings oor toepaslike, interessante en kontroversiële etiese onderwerpe te hou.

Pathcare laboratorium se kliënte-diens beamptes was behulpsaam met uitnodigings en die registrasie van etiek-punte vir die praatjie.

Dr Engela Lange het namens die Suid-Kaap Bioetiese vereniging die gaste verwelkom, waarna dr Wessel Vermeulen kortliks agtergrond oor SAMA gegee het en die belang van deernis, respek en waardigheid in die hele proses en bespreking rondom genadedood beklemtoon en spesifiek gemaan dat daar baie deeglik ook na die geestelike welsyn van die mediese personeel en familie rondom hierdie gevalle gekyk moet word.

Landman het in sy lesing ’n oorsig oor definisies toepaslik tot die tema van bystand-dood in Suid-Afrika gegee, asook die geskiedenis van geregtelike uitsprake rond-om sekere gevalle. Die onderwerp is wyd en kan van verskillende uitkykpunte beredeneer word.

DignitySA het oor die afgelope paar maande wyd inligting ingesamel om die grondslag te lê om die hof te versoek om 1. Bystanddood te dekriminaliseer (geen vervolging van dokters) en om 2. ’n proses te begin om regulasies daar te stel met betrekking tot bystanddood in Suid-Afrika. Die groep beroep hulle sterk op die konstitusionele grondwet se punt oor selfbeskikking en kontrole oor eie liggaam. Agt gesiene mediese praktisyns het onlangs ook hul steun vir die saak in die media uitgespreek.

Hoewel daar nog verskeie onsekerhede is, is hierdie slegs ’n inisieerder stap in die proses van demokratiese betrokkenheid en uitklaring van praktiese implikasies.

Die gesprek gaan voort en gee almal ’n geleentheid om diep te besin oor die dood en ook die lewe. Karel Schoeman is aangehaal: “Mooi is die lewe, en die dood is mooi”. (Deur dr. Engela Lange)