DIE saak teen Sydney Berry (23) van George, die bestuurder van die motor waarin Marilize Nortier op 22 September 2019 gesterf het, gaan twee jaar na haar dood in die streekhof op Oudtshoorn verhoor word.
Marilize was ’n matriekleerder van Langenhoven Gimnasium tydens haar dood.
Berry se verhoor gaan in die streekhof voort nadat hy besluit het om ’n pleitooreenkoms met die staat terug te trek.
Die saak het verlede Woensdag (7 Julie) in die hof voorgekom.
Berry staan tereg op klagtes van strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen.
Die motor waarin Marilize ’n passasier was, het die aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n watervoor beland.
Berry het glo die toneel verlaat en later weer teruggekeer.
Marilize was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is.
Tydens ’n nadoodse ondersoek wat gedoen is, is bevind dat sy verdrink het.
Die saak is deur landdros Vaughn Shone vir verhoor in die streekhof tot 10 September uitgestel. Berry wat op waarskuwing is, word deur Bulelani Bans van Dercksens Prokureurs in Knysna verteenwoordig. (Deur Garnett Wicomb)