Huidige onrus in Suid-Afrika

MET die onrus wat in ons land posgevat het, word die rol van sosiale media (Facebook, WhatsApp, Twitter en nog meer) om kwaad te stook en verdeeldheid te saai weer beklemtoon.

Aan die een kant is daar oud-pres Jacob Zuma se ondersteuners en ander RET-groepe wat sosiale media gebruik om onrus te stook.

Daar is ook nou baie mense aan die regse kant van die politieke spektrum wat begin dreig om voor die voet stropers te skiet.

In die burgerlike samelewing is daar groepe­ringe, onder meer Indiër- en ander winkeleienaars asook taxi-eienaars wat begin het om as ’t ware die reg in eie hande te neem deur hul eiendom en belange te beskerm. Van dié mense tree waarskynlik nie onwettig op nie en werk saam met die polisie.

Ongelukkig is dit so dat die polisie en die weermag nie naastenby oral kan uitkom om eiendom te beskerm nie – waarskynlik deels weens onbe­voegdheid.

Maar dit is ook baie belangrik om die omstan­dighede waarbinne hierdie onrus en verwoesting ontstaan het in ag te neem.
Suid-Afrika, met sy veelbewoë geskiedenis, is al lank ’n tydbom weens die omvang van desperate armoede in ons land, wat nou nog vererger het weens die Covid-19-pandemie.

Dit staan in groot kontras met die korrupte po­litici en amptenary wat hulself onregmatig verryk, asook die gewentenlose stinkrykes en kapitaliste wat net een doel voor oë het, en dit is om nog ryker te word, ongeag. Die anderkant van die munt is dat die private sektor die grootste werkgewer in Suid-Afrika is.

Dan is daar ook die ANC se RET-groeperinge (radikale ekonomiese transformasie) wat reg sit om enige situasie uit te buit om ’n vonk in die kruitvat te gooi. Zuma wat nou in die tronk is, het aan hulle ’n vonk verskaf en nou stook hulle die vuur met mening.

Wat baie belangrik is om in gedagte te hou, is dat as jy desperaat arm en werkloos is en niks het om te verloor nie, en jy sien hoe mense goed uit supermarkte en ander besighede dra (plunder), haak jou kop uit, raak jy deel van die massahisterie en gaan kry jy vir jouself terwyl jy die kans het.

Dit maak uiteraard nie hul optrede wettig nie. Die rol van plein misdadigheid moet ook nie onderskat word nie.
Maar Die Hoorn meen dat baie van die stropers ook net slagoffers is deurdat hulle gebruik word deur mense met kwade politieke oogmerke.

NS: Ons op Oudtshoorn is baie gelukkig dat ons nie bedreig word en ongerief verduur soos baie van ons landgenote nie. (Deur Schalk le Roux)