DIE saak teen ’n raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat van verkragting, aanranding om ernstig te beseer en twee aanklagte van gewone aanranding aangekla word, moes verlede Woensdag (13 Julie) weer in die streekhof op die dorp uitgestel word omdat die klaer weens siekte nie by die hof kon wees nie.
Die verdagte het nog nie gepleit het nie en sy naam mag daarom nie gepubliseer word nie.
Hy word daarvan aangekla dat hy op 2 Oktober 2021 die 39-jarige klaer in ’n huis in Dassieweg, Bridgton, verkrag, op die grond neergegooi en op haar kop getrap het.
Hy word ook aangekla dat hy op 29 September 2021 ’n 16-jarige meisie met ’n stukkie hout geslaan en ’n vyfjarige seun met die plat hand geslaan en teen ’n hangkas gegooi het.
’n Lasbrief vir die vrou se inhegtenisneming is in Mei tydens ’n vorige verskyning van die verdagte uitgereik toe sy ook nie opgedaag het nie.
’n Doktersbrief is Woensdag vir haar afwesigheid aan die hof voorsien.
Die verdagte se borgtog van R300 en borgvoorwaardes is weer deur streeklanddros Daniel Boks verleng met die waarskuwing dat die verhoor op 31 Augustus sal begin. Van sy borgvoorwaardes is dat hy nie kontak maak met die klaers nie, nie by verdere misdaad betrokke raak nie en ook wegbly van die klaers se woonadres. (Deur Garnett Wicomb)