
DIE groep jong inwoners, waaronder kinders en tieners, wat op 12 Julie klippe, rotse, brandende bande en ander brandende voorwerpe in die pad geplaas het om die verkeer op die N12 na De Rust te ontwrig, het dit na bewering teen betaling gedoen, sê ’n betroubare bron.
Die puin van die sogenaamde protesaksie het oor ongeveer ’n kilometerlange stuk van die pad gelê, met voertuie en vragmotors wat van beide kante af moes omdraai óf baie stadig en versigtig oor die rommel moes ry om te verhoed dat hul voertuie beskadig word.
Een van die jeugdiges het dié dag beweer jongmense is ongelukkig oor ’n gebrek aan werksgeleenthede.
Vandeesweek het Die Hoorn inligting ontvang dat van die jeugdiges beweer hulle is R50 betaal om te betoog.
Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het gesê hy het dieselfde inligting ontvang.
“Ek het ’n gesprek met POP (die openbare polisiëringseenheid) gehad en hulle het bevestig dat diegene wat betrokke was, jeugdiges was wat werk soek. Een van die raadslede het met van hulle (betogers) gesels en hulle het gesê hulle wil werk op die paaie hê. Hulle het ook gesê dat hulle R50 betaal is om te betoog,” het Macpherson bygevoeg.
Volgens Johan Allers, speaker van die raad, is hierdie soort optrede deur inwoners totaal onaanvaarbaar.
“Dit is ’n hoofpad in en uit ons dorp, en sulke aksies belemmer besigheid op die dorp. Mense wat hierheen ry, of wat hier moet deurry, moet in so ’n geval lank wag of ’n ompad ry, en dit skep ’n baie slegte indruk van ons dorp,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)