12-jarige sterf in ongeluk

Faith Mtantato (12), ’n leerder van die Laerskool Van Reede, wat Maandag in ’n motorbotsing oorlede is. Foto Facebook

DIE tragiese dood van ’n graad 6-leerder van die Laerskool Van Reede op Oudtshoorn, Faith Mtantato (12), Maandagoggend in ’n motorongeluk tussen Bloemfontein en Oudtshoorn, het blyke van medelye aan die skool en haar familie laat instroom.

Die skool het Dinsdag Faith se dood op hul Facebook-bladsy bekend gemaak:
Dit is met groot hartseer dat ons u meedeel dat Faith Mtantato, ’n leerder in 6E2, gister-oggend tragies in ’n motorongeluk oorlede is.

Ons innige meegevoel aan haar familie. Ons dra hulle in ons gebede op aan ons Hemelse Vader.

Mag hulle in Hom vertroosting vind in hierdie hartseer tyd. Mag sy in vrede rus.

Die familie was volgens ’n personeellid van die skool, Carina Fourie, op pad van Bloemfontein na Oudtshoorn toe die ongeluk plaasgevind het.

Faith is klaarblyklik uit die voertuig geslinger toe ’n band gebars het.

Volgens Fourie was Faith ’n baie besonderse leerder. Sy het goed gevaar op skool, vir die o.12A-netbalspan gespeel en in die Griffiekoor gesing.

Haar jonger sussie wat ook ’n leerder van die Laerskool Van Reede is, was ook in die ongeluk en het kneusplekke aan haar gesig en nek opgedoen.

Faith se klasonderwyser, Adel Coetzer, het die volgende eerbewys aan haar leerder op die skool se Facebook-bladsy geskryf: She was such a beautiful girl. Quiet, well behaved, a voice like an angel.

An example to her peers. I look at that empty seat and my heart breaks. It was an absolute pleasure being her teacher. She leaves a huge void in my class and heart. Your presence is missed terribly. I keep her family in my prayers. Rest in peace little angel. (Deur Liesel le Roux)