Katte vermoedelik met Two-Step vergiftig

Die katte Nala (heel links) en Vlooi wat onlangs op Oudtshoorn vergiftig is, vermoedelik met die dodelike gifstof Two-Step. Foto verskaf

’N VROU en haar ma van Oudtshoorn is deur hartseer oorrompel nadat hul katte vermoedelik met die dodelike gifstof Two-Step vergiftig is en gevrek het. Dié wrede manier waarop inwoners na bewering van rondloperkatte op Oudtshoorn probeer ontslae raak, laat kateienaars en dierewelsynorganisasies met hul hande in die hare.

Alicia Smit, ’n inwoner van Elleystraat in Zeelandsnek (ou Hospitaaluitbreiding), sê haar twee katte, Vlooi en Nala, is beslis vergiftig.

“Ek het die Vrydag (8 Julie) op Vlooi afgekom in my kamer waar sy dood op die mat gelê het. Ons het glad nie geweet waarom sy dood is nie en haar later begrawe.

“Toe ons vir Nala die Maandag daarna net buite ’n venster dood gevind het, het ons besluit om haar veearts toe te neem vir ’n nadoodse ondersoek. Dit is toe dat die gif gevind is,” het Smit deur haar trane gesê.

Volgens haar was Vlooi en Nala nie sommer net gewone troeteldiere nie, maar soos haar kinders.

Albei was gesteriliseer en het bandjies om hul nekke gehad met Smit se kontaknommer op.

“Ek wens net wie ook al dit was, het ons eerder net gebel en laat weet ons katte pla. Hulle was nie probleemkatte nie, net nuuskierig van aard. Ek wens hierdie hartseer vir niemand toe nie!”

Smit sê sy vertel haar storie om die boodskap uit te kry voordat sulke voorvalle handuit ruk.

Die Hoorn het reeds vanjaar en in 2021 met Lee-Ann van Sittert, Oudtshoorn se “Cat Lady” en hoof van die nie-winsgewende organisasie, die Cat Hotel, gesels oor voorvalle van die vergiftiging van katte en probleme met katte in woonbuurte.

Van Sittert sien reeds jare lank al, sonder enige betaling, byna vrou-alleen om na die welsyn van nie net rondloperkatte op en om Oudtshoorn nie, maar ook na die katte van mense wat weens hul omstandighede nie self hul katte kan versorg nie.

Sy reël gereeld katvangsessies in dele van Oudtshoorn waar die probleem van rondloperkatte veral erg is; onder meer omdat sy al talle kere in die verlede te doen gehad het met katte wat òf dood­geslaan òf vergiftig is en in ’n straat in die omgewing gevind is.

Die onlangse voorval waarin Smit se katte vergiftig is, het volgens Van Sittert juis naby Asch­manstraat plaasgevind waar ’n inwoner graag rondloperkatte voer.

Van Sittert het al telkemale met die spesifieke inwoner gesels oor die probleme wat dit vir ander inwoners se katte inhou as sy rondloperkatte voer en so na die omgewing lok.

“As iemand wat katte geweldig liefhet en red, is ek regtig baie hartseer en gefrustreerd dat mense so ’n wrede benadering het om van katte ontslae te raak,” sê Van Sittert.

“Ek het mense gevra om my te help om die rondloperkatte in hierdie omgewing te vang, maar ongelukkig het net vyf mense opgedaag, waarvan drie vrywilligers van my organisasie is.

“As jou bure se katte ’n probleem is, praat tog net met hulle om ’n oplossing te vind voor jy hulpelose diere begin vergiftig.

“Dit geld vir die rondloperkatte ook – skakel my eerder voordat jy tot so ’n wrede daad oorgaan.”

• Kontak Van Sittert by 083 334 0172, of skakel die Oudtshoorn Diereskut by 044 203 3927 om probleem- of rondloperkatte aan te meld. (Deur Stefan Skapie Goosen)