Saak teen raadslid na beweerde moles vroegoggend

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n klag van “aanranding gewoon” teen ’n omstrede raads­l­id van die Groter Oudtshoorn wat na bewering ’n 28-jarige vrou Vrydag (15 Julie) in Abrahamstraat, Bridgton aangerand het.

Die polisie ondersoek ook ’n verdere klag van seksuele aanranding wat klaarblyklik verband hou met dié voorval.

Volgens inwoners wat Die Hoorn oor die voorval gekontak het, het die raadslid die oggend kaalbolyf by ’n beweerde bakleiery betrokke geraak.

Ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die raadslid het die klaer omstreeks 06:40 die betrokke dag in die gesig geklap en haar kop teen ’n muur gestamp na afloop van ’n stryery.

“Die verdagte het blykbaar die klaer se susters-kind daarvan beskuldig dat hy/sy die raadslid se kind seksueel aangerand het.

“Die klaer pas die raadslid se kind gedurende die dag op,” sê Michaels.

Die name van die verdagte, die klaer en die moontlike slagoffer mag nie bekend gemaak word nie omdat minderjariges betrokke is.

Tans is niemand in aanhouding nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)