LEDE van Misdaadintelligensie en die Oudtshoorn Polisie het die afgelope Vrydag (15 Julie) beslag gelê op ’n onwettige Luger-pistool in ’n huis in Bridgton, Oudtshoorn.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die polisiebeamptes omstreeks 15:00 met ’n lasbrief op die huis in Afrikanerhof toegeslaan.
Die Luger is na ’n intensiewe soektog versteek in ’n rugsak in ’n slaapkamer gevind. Twee inwoners, ’n ma en seun van onderskeidelik 42 en 18 jaar oud, is op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen in hegtenis geneem en sou Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn het.
Beslag ook gelê op 169 liter drank, dwelms en gevaarlike wapens
Die Oudtshoorn Polisie het Donderdag ook beslag gelê op hope drank, dwelms en gevaarlike wapens tydens operasies.
169 liter drank is in ’n huis in Tierstraat, Bridgton gevind en ’n 56-jarige man in hegtenis geneem op aanklag van die verkoop van drank sonder ’n lisensie.
Polisie-eenhede wat tussen Donderdag en Sondagoggend ontplooi is in misdaadgeteisterde gebiede in en om Oudtshoorn het 16 verdagtes in hegtenis geneem op dwelmverwante klagtes en 12 vir die besit van gevaarlike wapens terwyl beslag gelê is op ’n verskeidenheid skerp voorwerpe en klein hoeveelhede Tik, Mandrax en dagga tydens die inhegtenisnames. Die verdagtes is almal tussen 18 en 56 jaar oud.
Onwettige wapen in Bridgton-huis gevind
Die wapen wat in Afrikanerhof gevind is. Foto’s verskaf