DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat ’n vermeende dief met ’n gholfstok oor die kop geslaan het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof as gevolg van te min hoftyd tot 12 Mei vir verhoor uitgestel.
Selby Plum word van poging tot moord aangekla maar pleit skuldig op ’n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer omdat hy volgens hom nie die “dief” wou doodslaan nie.
Volgens Plum het hy op 17 September 2021 vir Leonardo Bezuidenhoudt, wat glo klere van die wasgoedlyn gesteel het, in Arnold de Jagerrylaan raakgeloop en gekonfronteer.
Nadat Bezuidenhoudt glo gedreig het om hom met ’n klip te gooi en hy (Plum) bang was dat die kind wat by hom was, raakgegooi sou word, het hy huis toe gegaan en ’n gholfstok gaan haal.
Hy het Bezuidenhoudt drie keer oor die kop geslaan en wou volgens hom die klaer “net seermaak”.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof versoek om nie Plum se verduideliking te aanvaar nie en met die verhoor voort te gaan.
Plum het nie vir die vorige hofdatum opgedaag nie, waarna ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.
Plum is deur streeklanddros Ntsoki Moni gewaarsku om nie weer weg te bly nie en seker te maak hy is op 12 Mei by die hof. (Deur Garnett Wicomb)