Rustige munisipale raadsvergadering!

Johan Allers, speaker van die Oudtshoorn munisipale raad.

’N RUSTIGE raadsvergadering op Oudtshoorn, anders as die laaste paar maande se vergaderings, het Donderdag (28 Julie) in die munisipale raadsaal afgespeel, met die regerende veelparty-koalisie (DA, VF Plus, Suid-Kaap Saamstaan en Icosa), sowel as die opponerende ANC-koalisie wat op die oog af saamwerk om onder meer die dorp se administrasie te verbeter.

Met die aanvang van die vergadering het die drama van die afgelope raadsvergaderings byna weer kop uitgesteek, met die ANC-hoofsweep, Mziwoxolo Tyatya, wat wou weet wie die “omstrede raadslid” is waaroor daar die afgelope paar weke in die media berig is.

Die Hoorn het op 21 Julie berig oor ’n omstrede raads­l­id van die Groter Oudtshoorn wat na bewe-ring ’n 28-jarige vrou op 15 Julie in Abrahamstraat, Bridgton, aangerand het. Die Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n klag van “aanranding gewoon” teen die spesifieke raadslid, met ’n verdere klag van seksuele aanranding wat klaarblyklik verband hou met dié voorval, maar wat nie teen die raadslid aanhangig gemaak is nie.

Onderburgemeester Mlandeli Nyuka wou ook poog om ’n mosie van dringendheid voor die raad te laat dien. Hy het gesê hy het die oggend inligting oor twee ander raadslede ontvang wat hy glo ontbloot moet word. Die speaker van die raad, Johan Allers (VF Plus), het toe vinnig ’n stokkie in die wiele van beide Tyatya en Nyuka se planne gesteek, en gesê dat daar eers sekere prosedures gevolg moet word voordat hierdie items bespreek kon word, veral wanneer raadslede persoonlik bespreek word.

Die res van die vergadering het daarna vlot verloop. Daar is onder meer ouditverslae oor die laaste kwartaal van die 2021/22 boekjaar behandel, terugvoer gelewer oor die implimentering van raadsbesluite, en ander verslae hanteer.

Wat wel van belang was, waarna die raad tans ondersoek instel, is oortyd- en siekverlofverslae.

Volgens sekere raadslede is daar tye waar munisipale werknemers oortyd geëis het, waar daar nie ’n moontlikheid was om oortyd te werk nie. Hulle het ook gevra dat daar na werknemers se siekverlof gekyk moet word, omdat sommige raadslede beweer dat daar mense is wat reeds in een jaar byna twee tot drie jare se siekverlof geneem het. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Rustige munisipale raadsvergadering!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*