Rugbyspeler skenk organe, red ander

Ten spyte van gietende reën het honderde familielede, vriende en lede van sewe rugbyklubs, Saterdag die begrafnisdiens van die geliefde All Blacks rugbyspeler, Sydwell Muller, in die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk bygewoon.

Muller (34), agtsteman van die All Blacks, het op 14 Oktober op die rugbyveld in Sedgefield vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf, in ’n wedstryd teen Sedgefield Eagle Stars.

Ds Andre Boesak het in sy boodskap begrafnisgangers meegedeel dat Muller ’n orgaanskenker was en dat sy organe vir ses mense ’n beter lewe gegee het. “Jesus het sy lewe gegee sodat ons kan leef. Sydwell skenk sy organe sodat ander mense ’n beter lewe kan lei.”

“Kom ons almal dink aan orgaanskenking,” het hy gesê. Muller se ma, Christine Muller, het haar seun as ’n baie spontane kind beskryf. “Hy was baie lief vir sport en het in sport gesterf. Dit was die Here se wil en ons sal dit eendag verstaan. Ek dank God vir sy nalatenskap en wil aan sy kind se ma sê om goed te kyk na hulle kind en hom op te bring soos wat sy pa dit sou doen.”

Die voorsitter van All Blacks Rugby-klub Damon Gysman, het feitlik almal in trane gehad met sy emosionele huldeblyk toe hy self onbedaarlik begin huil het. “Sy eindfluitjie het geblaas,” het Gysman in trane gesê. Die president van die SWD Rugbyunie Ben Brinkhuis het namens die unie meegevoel aan Muller se familie betuig en gesê dit was die eerste keer in twintig jaar dat iemand in die streek sy lewe op ’n rugbyveld verloor.

Muller was volgens sy broer, Rodney Gallant, ’n opregte omgeemens wat in sy kort leeftyd soveel mense met sy mooi persoonlikheid aangeraak het.

“As gesin is ons verras oor die groot hoeveelheid pragtige boodskappe van medelye wat van heinde en vêr gekom het.” Muller se kis is na die diens beurtelings in die reën deur klublede van die onderskeie rugbyklubs gedra. Hy is die week tydens ’n privaatgeleentheid veras.

Hy word oorleef deur sy ma, Christne Muller, ’n raadslid van die Oudtshoorn munisipaliteit, twee broers, ’n suster, sy meisie, en hul baba van jonger as ’n maand. (Deur Garnett Wicomb)