Met die onlangse uitbraak van voëlgriep onder die land se lê- en slaghoenders in provinsies soos Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Vrystaat en Noordwes wat die ergste deurloop, en nou ook ’n geval van voëlgriep in die Wes-Kaap wat onlangs geïdentifiseer is nadat siek voëls vanuit Noordwes vervoer is, bestaan die vraag of dit die plaaslike volstruisbevolking sal beïnvloed en wat die implikasies sal wees vir die Klein Karoo.
Die area het na agt jaar van erge droogte, wonderlike reën gehad en die Raubenheimer- en Kammanassiedam loop tans oor, en Stompdrifdam staan op 47,6%. Nou staar die volgende uitdaging Oudtshoorn en omliggende areas waar daar met volstruise geboer word moontlik in die gesig.
Die Hoorn het gaan aanklop by dr Laura Roberts, staatsveearts van die Epidemiologie afdeling by die Departement van Landbou.
Volgens Roberts is die virus wat tans onder hoenders versprei die H5 voëlgriepvirus, en dat daar geen teken van hierdie griep op volstruisplase en volstruise geïdentifiseer is nie. “Volstruise word gewoonlik deur wilde voëls aangesteek wat siek is, en sover is daar nog geen teken dat enige wilde voëls in die area simptome het of aangesteek is nie,” vertel sy.
Hulle hoop egter dat die risiko vir volstruise steeds laag sal bly.
Daar is ook onlangs ’n moontlike geval van die H5-virus by volstruise naby Oudtshoorn geïdentifiseer, maar die resultate van toetse is nog nie deur ’n laboratorium bevestig nie. Dit is dieselfde variant wat ’n klomp infeksies in hoenders in die Noorde van die land veroorsaak.
“Die volstruise op die geaffekteerde plaas het sover nog geen tekens van siekte getoon nie, en aanvanklik lyk dit of hul nie meer besmet is met die virus nie,”
Sou enige voorvalle op ’n volstruisplaas opgetel word, sal die plaas onder kwarantyn geplaas word, om seker te maak die volstruise nie vervoer of geskuif word nie en die siekte ook nie versprei nie.
Daar is ook spesiale maatreëls wat in plek gestel word, wat deur boere en hul werkers gevolg word om te verseker dat enige persone en voertuie wat na en vanaf die plaas beweeg gesaniteer word en die virus ook nie op so ’n wyse verder versprei word nie.
“Ons maak staat op die EU (Europese Unie) waarheen ’n klomp volstruisprodukte uitgevoer en verkoop word, dat alle uitvoere van volstruis produkte buite die geaffekteerde areas bly,” verduidelik Roberts.
Daar word ook dokumente onderteken waarin hul die versekering gee dat daar geen uitbraak van voëlgriep binne ’n 10km radius vanwaar die produkte afkomstig is in die vorige maand geïdentifiseer is nie.
Dit beteken ook natuurlik dat alle plase binne daardie 10km radius waar so ’n infeksie opgetel word, ook onder kwarantyn geplaas word, en volstruise op buurplase getoets word om te verseker dat daardie volstruise is nie siek nie.
Wat hoenders hier in die Klein Karoo betref, wat aangehou word en sou siek raak, ook deur wilde voëls aangesteek word. Ons vind egter dat hoenders wat vryloop meer bestant teen die virus is.
Troetelvoëls soos papegaaie, veral African Grey’s wat in kontak kom met wilde voëls of hulle mis, is veral baie bestand teen voëlgriep.
“Ons raai steeds aan dat waar sover moontlik, kontak tussen hoenders en selfs troetelvoëls met wilde voëls vermy word, deur hulle nie te voer en water beskikbaar stel waar wilde voëls daarvan kan eet of drink nie.” sluit sy af
Sover word die totale verlies van die hoender industrie tans op sowat R4,8 miljard geraam, met ongeveer 30% van die land se totale braaikuikens en teelhoenders, en ook 30% van die land se lêhoenders vir kommersiële gebruik van kant gemaak moes word.
Dit verduidelik natuurlik die hoekom hoender- en eierpryse die afgelope tyd die hoogte ingeskiet het.
Die Hoorn het ook met Ebon le Roux, een van Oudtshoorn se plaaslike volstruisboere gesels oor die impak was so uitbraak vir boere kan inhou en prosesse wat hul volg.
Volgens le Roux kan dit so uitbraak ’n hele boerdery finansieel uitwis.
“Volstruise wat positief toets hoef nie van kant gemaak te word nie, maar hulle kan steeds aangehou en gevoer word, wat ’n plaas onder swaar finansiële druk plaas. Voëls wat gewoonlik verkoop word, moet nou langer op die plaas bly en gevoer word, en weer die plaas se kontantvloei onder druk plaas,” verduidelik hy.
Dagoud kuikens mag steeds van plaas na plaas of na die abattoir geskuif word, mits daar ’n Rooikruispermit in plek is. Aansoek vir so permit word by die plaaslike staatsveearts voor aansoek gedoen en goedgekeur.
Volstruise van 1-8 maande oud mag egter nie geskuif of verkoop word nie.
Volstruise van 9 maande oud mag dan weer met ’n Rooikruispermit geskuif of geslag word.
“Op die stadium is ons nie baie bekommerd nie, maar ons het reeds prosedures in plek om die biodiversiteit van persone een voertuie wat ons plaas besoek te beheer,” se hy.
Alle voertuie en persone wat op die plaas kom en weer verlaat word gesaniteer. Die bande van alle voertuie wat die plaas verlaat word weer gesaniteer, om te voorkom dat enige virusse oorgedra of versprei na ander plase.
Volstruise word reeds teen 3maande vir New Castle siekte geënt, maar daar ongelukkig tans nog nie entings beskikbaar vir volstruise teen die H7 en H5 virusse nie wat verwoesting saai in die hoenderbedryf. (Deur Angelique Erasmus)
Voëlgriep, volstruise gesond
’n Trop volstruise op ’n plaas net buite Oudtshoorn. Volstruise is sinoniem met Oudtshoorn en oral te sien langs die pad op plase in alle rigtings om die dorp. Hulle is ook ’n groot toe-risme attraksie met buitelanders wat gereeld foto’s saam met hulle neem.
Foto Angelique Erasmus