Bridgton drama skitter met ‘Tekkie’ produksie

Bo: ’n Toneel uit Tekkies, wat deur leerders van Bridgton Sekondêre skool op Donderdag opgevoer is. Die storie is verwerk deur een van die onderwysers Leach van der Westhuizen, uit die Graad 9 voorgeskrewe leesboek “Shoozz”. Foto: Hans van der Veen

Leerders van Bridgton Sekondêre Skool in Oudtshoorn het geskitter tydens hul drama-aand op Donderdagaand 19 Oktober 2023, wat by die skool aangebied is.

Leach van der Westhuizen, ’n onderwyser van die skool het as regisseur opgetree en die oorspronklike teks van “Shoozz”, ’n voorgeskrewe boek wat die Graad 9 leerders in 2019 gelees het verwerk. Die plan was om die produksie in 2020 aan te bied, maar Covid het daardie planne in die wiele gery.

Van der Westhuizen hou reeds vanaf 2017 skool, en het in 2018 met sy eerste produksies begin, waarvan die verwerkte teks van “Sofia Town”, een van vele aanbiedinge was.

Bekende Oudtshoorn inwoner, Hans van der Veen was daar om die oomblik te verewig in ongelooflike foto’s wat waarlik die storie vertel. Hy het ook op Maandag 23 Oktober op die YouTube kanaal – Ons sit koppe bymekaar, Episode 139 met Van der Westhuizen, en die twee hoofrolspelers Keanan Alexander wat die rol van Junior Matthews vertolk en Lee-Oney May as Carley Matthews in die produksie gesels. Die program word gesamentlik met dr Thea Smith aangebied.

“Die storie gaan oor empatie en om jouself in ander se skoene te sit. Nie te oordeel nie, en mekaar te probeer verstaan. Almal sukkel met een of ander kwessie by die huis,” het Van der Westhuizen tydens die onderhoud gesê.

Die produksie handel ook oor boeliegedrag wat gereeld in skole gebeur.

“Ek wou ook graag blootstelling gee aan leerders op die verhoog, en Oudtshoorn het briljante akteurs en is ’n kunsdorp,” sê hy.

Keanen vertel dat die storie en die rol wat hy vertolk aan hom ’n nuwe perspektief gegee het oor hoe hy ander behandel. “Jy weet nooit wat in hulle lewe aangaan nie,” vertel hy.

Sy rol was as ’n leerder wat van ’n ander skool by ’n nuwe skool ingeskryf word. Hy dra dan sy oorlede pa se tekkies omdat hy glo dit het “magic” en soos hy mense aanraak verander hy hulle lewe.

Lee-Oney se rol was vir haar ’n uitdaging omdat sy die rol van ’n Tomboy moes vertolk, en sy eintlik ’n baie sagte mens is. Haar karakter word by die huis deur haar pa verbaal mishandel, en omdat sy sulke slegte huislike omstandighede het wil sy nie graag skool toe gaan nie, waar sy geboelie word en dit haar selfbeeld afkraak.

“Die hele span het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt,” sê Van der Westhuizen.

Van der Westhuizen vertel dat die produksie ook handel oor geweld, waarmee baie nie daagliks gekonfronteer word nie. “Mense lees dit raak, of praat onder mekaar as hulle stories hoor, maar dis eers wanneer dit met jou persoonlik gebeur dat jy besef watter groot inpak dit op jou, jou kinders, familie en gemeenskap kan hê.”

Kuns en drama skep ’n platvorm om hierdie kwessies aan die lig te bring en skep bewusmaking.
Gaan besoek gerus die YouTube kanaal vir die volle onderhoud of www.hansvanderveen.co.za. (Deur Angelique Erasmus)