Roerende huldeblyke tydens begrafnis

Foto: Garnett Wicomb

“IN stilte kan jy ook in die wêreld beweeg.”

So het die vermoorde Almay Hurling (21) se tante, Estelle Blaauw, Saterdag in haar huldeblyk tydens die begrafnisdiens van haar susterskind in ’n stampvol Bridgton Apostoliese Geloofsendingkerk (AGS) gesê.

Volgens Blaauw was Almay ’n stil kind wat net by die huis wou wees en nie eers na ’n winkel wou gaan nie.”Dit is dit skokkend vir die familie dat sy so wreed in die veiligheid van haar ouerhuis aan haar einde moes kom.”

“Maar die familie is nie kwaad nie, ons weet dat sy op ’n beter plek is en nie bestem was vir die aarde nie.”

Die familie was volgens Blaauw oorweldig deur die ondersteuning wat hulle van oraloor, selfs van mense wat hulle nie eers ken nie, gekry het.

Almay, wie se naam “geregtigheid” beteken was nie net iemand wat vir vrede en liefde geleef het nie. “Sy was vrede en sy was liefde.”

“Ons glo dat die Here tydens daardie middag elke oomblik met Almay was en sy nie vir die aarde bestem was nie.”

Volgens haar was Almay versot op lees en kon sy ure net sit en lees.

Sy hoop dat Almay se dood ’n verandering in jongmense se lewens sal bring.

“Ons het vrede in ons harte.”

Volgens Blaauw het Almay en haar moeder, Lizette, ’n besondere verhouding met mekaar gehad.
Sy het ’n brief van Lizette, voorgelees waarin sy sê dat sy baie van haar stil kind geleer het.

Nog ’n familielid, Lee-Ann Vorster, het in haar huldeblyk gesê dat Almay se lewe ’n kortverhaal was met ’n tragiese einde, maar wel volledig.

Volgens haar was Almay ook ’n uitstekende ballroom-danser wat baie goed gevaar het in dié sportsoort. “Sy dans seker nou die tja-tja saam met engele.”

Vorster het afgesluit met die woorde dat haar herinneringe en pragtige glimlag altyd in die familie se harte sal voortleef.

Pastoor Freddy Cupido het die familie na aanleiding van Markus 10:17-22 getroos .

“Om jou kind op so ’n manier te verloor is nie lekker nie maar die Here het haar gekies,” het hy gesê.

Hy het ’n beroep op ouers gedoen om altyd seker te maak waar hul kinders is en sy boodskap aan die begrafnisgangers, en die hele Oudtshoorn, was : ”Jy het Jesus in jou lewe nodig.”.

Volgens hom is daar een eienskap omtrent Almay wat hom diep geraak het. “Ek verstaan dat wanneer sy gevra is om iets te doen, soos om tee te maak, sy alles waarmee sy besig was, net so gelos het en met ’n glimlag gedoen het wat sy gevra was.” Ons kan almal ’n les hieruit leer.”

Almay se pa, pastoor Hans Malgas, wat die bedankings gedoen het, het gesê dat sy ’n hart van goud gehad het en nie iemand was wat van die kalklig gehou het nie. Sy was ook te alle tye positief.

– Roerende tonele het hulle self ook op Donderdag 6 April in Buisstraat afgespeel tydens ’n “Drive By”. Pastoor André Nel van Kingdom Culture Ministries het ’n troosboodskap aan die familie gebring het.

Leon Campher, Oudtshoorn raadslid en gemeenskapsleier en stigter van die Community Against Crime-groep, het die gemeenskap bedank wat in groot getalle opgekom het om Almay se ma en familie te ondersteun en bemoedig.

Almay is tydens ‘n privaatgeleentheid veras. (Deur Garnett Wicomb)