Dorp rou oor mooie Almay

Almay Hurling in haar gunsteling plek - die biblioteek. Foto verskaf. Onder: Allister Wanie

DIE moord op die 21-jarige Almay Hurling, van Buisstraat, Oudtshoorn, het nie net skokgolwe deur die gemeenskap gestuur nie, maar ook nasionale nuus gehaal.

Polisie is Maandag 3 April, omstreeks 15:40 na Hurling se ouerhuis ontbied, waar sy deur paramedici op die toneel dood verklaar is. Sy het veelvoudige steekwonde aan haar liggaam gehad.

Allister Wanie (32), ’n munisipale werknemer, wat na bewering Hurling se begrafnis Saterdag bygewoon het, is vir haar moord aangekla.

Wanie het in die Gemeenskapsdienste departement gewerk.

Hy is Saterdag, 8 April, na ’n selfdoodpoging, na die George Hospitaal geneem, en onder bewaking in die Intensiewe Sorgeenheid (ISE) gehou.

Hy het egter Dinsdagmiddag 11 April, omstreeks 14:50 gesterf.

Volgens sers Chris Spies, woordvoerder vir die Suid-Kaapse Polisie, is die verdagte in die hospitaal opgeneem nadat hy gif in vloeistof vorm gedrink het.

Volgens inligting wat Die Hoorn bekom het, het hy ’n gifstof gedrink wat organofosfaat bevat. Hy is deur mediese personeel van die hospitaal dood verklaar.

‘n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van sy dood te bepaal, word tans gedoen.

Die uitslae sal deel vorm van die polisieondersoek, het Spies verder gesê.

Volgens die klagstaat, is ’n lasbrief vir Wanie se inhegtenisneming reeds Saterdag uitgereik.

Hy sou gister sy eerste verskyning in die Oudtshoorn Landdroshof gemaak het. Die saak is toe egter in sy afwesigheid uitgestel na 18 April toe.

Oudtshoorn se Uitvoerende Burgemeester, Chris Macpherson het die volgende verklaring Dinsdag uitgereik.

“Ons het pas verneem dat die verdagte wat verbind was met die moord op Almay Hurling en ’n werknemer van die munisipaliteit was, vroeër vandag in die George-hospitaal oorlede is. Hierdie was ’n uiters traumatiese tydperk vir geliefdes wat deur die moord geraak is en ek vertrou dat daar ‘n mate van afsluiting en selfs berusting gevind kan word. My innige simpatie aan almal wat deur hierdie tragiese gebeure geraak is.” sluit hy af.

Volgens inskrywings op Die Hoorn se Facebookblad, na ’n plasing oor Wanie se dood, blyk dit dat die gemeenskap woedend en teleurgesteld is dat geregtigheid nie kan geskied nie.

“Hy moes eintlik boet vir wat hy aan daardie onskuldige, pragtige meisiekind gedoen het.,” het Yvonne Coetzee gesê. Nog ’n inskrywing van Marisa Brand lui: “Wat ’n sinnelose daad. Twee families in rou. Mag die Vader julle styf vashou.”

Die Hoorn het met Hurling se ma, Lizette Hurling gesels.

Volgens haar was dit ’n groot be-derf wanneer sy haar dogter na die biblioteek geneem het.

“Sy wou graag ’n bibliotekaris geword het omdat sy so lief was vir boeke,” vertel sy. Sy vertel ook verder dat die verdagte gereeld haar ma Susan Hurling wat saam met hulle woon gehelp het om swartsakke uit die erf te dra.

Hy was bekend aan die familie en Almay was ook in sy ma se kleuterskool klas toe sy kleiner was.

Wanie het die dag vir Almay gevra vir water, en toe sy dit gaan haal, in die huis gegaan en die deur agter hulle gesluit.

Hy was ook Maandagaand op die toneel terwyl die polisie daar was.

“Ek het absoluut vrede in my hart, en het hom reeds vergewe,”.

Sy spreek ook haar opregte waardering uit teenoor die polisie wat uitstekende werk gedoen het, en selfs ’n kenner vanaf Kaapstad gebring het om te help met die saak.

“My gebed is net dat jong kinders nader aan God sal beweeg en hulle harte aan hom sal oorgee,”

Sy glimlag wanneer sy vertel dat sy gereeld vir Almay die lied, I hope you dance – deur Lee Ann Womack gespeel het en dit haar wens vir haar is.

Die familie bedank graag elke persoon wat hul ondersteun het en gebid het. “Hulle het ons toegemaak in liefde,” sluit sy af.

Sy laat haar ouma Susan, ma Lizette en broer Althean Hurling en haar pa pastoor Hans Malgas agter. (Deur Angelique Erasmus)