Robson skuldig bevind 4 jaar ná aanranding op Bosman

Links: Steve Robson... skuldig aan aanranding. Regs: Deon Bosman wat in 2018 aangerand is.

’N MAN wat daarvan aangekla is dat hy die eie-naar van Super Car Wash op Oudtshoorn, Deon Bosman, op 17 Januarie 2018 in sy kantoor aange-rand het, is in die Oudtshoorn Landdroshof skuldig bevind.

Landdros Marius Nel het Steve Robson, voorheen van De Rust, tot R1000 of 90 dae gevangenisstraf gevonnis. Die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie in dié tydperk aan aanran-ding skuldig bevind word nie.

Minnie Robson, wat soos Steve ook aangekla is van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is vrygespreek. Volgens die aanklag teen hulle het hulle Bosman aangerand deur hom met ’n knuppel te slaan, te skop en te trap.

Bosman moes ná die voorval ses steke in sy kop kry.

Die aanranding het gevolg op ’n me­nings­verskil op Facebook. Bosman het ná die voorval gesê hy is onseker waaroor die Robsons so kwaad vir hom was, maar dat dit klaarblyklik gespruit het uit sy reaksie op inskrywings van Steve op die Facebook-groep Oudtshoorniete staan saam.

Die Robsons het hulleself ná die voorval op dié Facebook-groep geïdentifiseer as die mense wat in die onderonsie met Bosman betrokke was.

Robson het ook ’n foto van sy vrou met ’n suur­stofmasker geplaas, wat voorkom of dit in die hospitaal geneem is, asook sy weergawe van wat gebeur het. Dié inskrywings oor die voorval is egter later van die groep verwyder.

Die Robsons het skuld ontken op die aanklagte teen hulle. (Deur Liesel le Roux)