Reuse-mosaïek by skool onthul

Bo: Die reuse-mosaïek­paneel wat Maandag by die Oudtshoorn Vaardigheidskool ont­hul is, verdwerg behoorlik die kunstenaar wat dit gedoen het, Petro Archer (regs), hier by Brendon Pieterse (voorsitter van die skool se beheerliggaam, links) en Gavin Block (skoolhoof). Onder: ’n Gedeelte van die mosaïek van nader. Foto’s: Liesel le Roux

’N BESONDERSE mosaïekpaneel is Maandag by die Oudtshoorn Vaardigheidskool onthul. Dié reuse-mosaïek is langs die ingang van die skoolsaal in Langenhovenweg geleë en beeld die vaardighede uit wat in die skool onderrig word – houtwerk, gasvryheidstudies, steenmessel en pleisterwerk, sweis- en metaalwerk, haarversorging en instandhouding.

Die mosaïek is oor ’n tydperk van ’n jaar deur Petro Archer gemaak. Archer sê sy het al voorheen groot werke gemaak, maar nog nooit iets van hier­die omvang nie. Sy het dikwels dae en weke lank van 07:00 in die oggend tot 22:00 saans gewerk, vertel sy.

Volgens haar berekening bestaan dié werk uit minstens 110 000 mosaïekstukkies!

“Dit was ’n lekker uitdaging in die Covid-tyd en ’n ander tipe oorwinning om so ’n groot werk te voltooi.”
Archer, wat emosioneel geraak het toe ’n swart gordyn Maandag tydens die onthulling voor die kunswerk weggetrek is, sê dit is deel van haar geaardheid om vas te byt en daarom het sy dit so geniet om dié mosaïek te maak en te voltooi.

Die skoolhoof, Gavin Block, het gesê die ont­hulling van dié mosaïek wat uitbeeld wat die vaardighede is waarna die skool se naam verwys, is die realisering van ’n droom.

“Hierdie is ’n meesterwerk! Petro, ons sal dit goed oppas. Ons is trots daarop,” het hy bygevoeg. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Reuse-mosaïek by skool onthul"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*