Rabie-saak sloer 9-jaar

Die Rabie-egpaar het Woensdag 25 Februarie, in die Oudtshoorn-streekhof voorgekom vir vonnisoplegging nadat hulle op 13 November 2025 skuldig bevind is op 34 klagtes van bedrog. Die saak is op versoek van die verdediging tot 14 Mei 2026 uitgestel vir ’n voorvonnisverslag.

Die egpaar, wat reeds in 2016 op 68 klagtes aangekla is, is ná hul skuldigbevinding op waarskuwing vrygelaat. Streeklanddros Daniel Boks se uitspraak van byne drie ure in November 2025 het bevind dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus by die Wes-Kaapse Departement van Landbou se proefplaas op Oudtshoorn, sy posisie misbruik het om sy vrou Johanna Rabie en haar twee beslote koöperasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 met die toekenning van tenders te bevoordeel.

Adv. Nodada Gantolo van die batebeslagleggingseenheid het aangedui dat die staat ’n aansoek sal bring om die geld wat onregmatig verkry is, terug te vorder. Indien dit nie terugbetaal word nie, kan die staat aansoek doen om die verkoop van bates. Dié aansoek is vir 19 Mei 2026 geskeduleer.

Hyron Goulding was die aanklaer, met adjudant-offisier JP Kennedy as ondersoekbeampte. Adv. Henry van Breda het die beskuldigdes verteen- woordig. (GARNETT WICOMB)