DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit hoop dat veselinternet in die nabye toekoms vir die hele gemeenskap van Oudtshoorn en hopelik selfs dele soos Dysseldorp en De Rust beskikbaar sal wees en vinnige, bekostigbare internettoegang vir almal sal bied, sê die burgemeester, Chris Mac-pherson.
Hy het Maandagmiddag gepraat by ’n perskonferensie oor veselinternet en die huidige werk in Oudtshoorn se strate om kabels te lê.
“Veselinternet is belangrik omdat dit goedkoper en meer betroubare toegang tot die internet vir mense kan bied.
“Dit sal byvoorbeeld groot voordele bied vir kinders en skole en vir kommunikasie met die gemeenskap.”
Volgens Macpherson word tans gesprek gevoer met ’n derde maatskappy wat bereid is om veselinternet aan die hele dorp te verskaf – ook dele aan Oudtshoorn se oostekant, soos Bridgton, Toekomsrus en al die ander woonbuurte waar vesel nog nie gelê is nie; met selfs die moontlikheid om dit na Dysselsdorp en De Rust uit te brei.
“Ons sal die groep toestemming gee om in die dorp in te kom met vesel op een voorwaarde – hulle moet die totale gemeenskap bedien, en nie net die middedorp en net sekere dele van die dorp nie.”
Volgens Macpherson bied dié groep baie bekostigbare internettoegang en kan mense ook op ’n kaart data laai soos nodig.
Hulle beoog ook om ’n hoeveelheid gratis data aan skole beskikbaar te stel.
Gesprekke word met verskaffers gevoer oor lê van kabels en toestand van strate Macpherson het gesê hy het onlangs gesprekke gevoer met beide die firmas wat die afgelope maande veselkabels in strate in dele van Oudtshoorn lê – onder meer Wesbank, die middedorp en dele van Oudtshoorn-Noord en Oudtshoorn-Suid.
Volgens hom het hy klagtes van inwoners ontvang oor die toestand van strate en die firmas versoek om opruimwerk te begin doen en gate toe te maak. Baie van die werk het hul reeds gedoen.
Albei firmas het onlangs aan Die Hoorn gesê dat hulle goed vorder met die lê van veselkabel en die res van hul projekte en dat veselinternet binne die volgende maande in die eerste dele van die dorp beskikbaar sal wees. (Deur Liesel le Roux)
Raad wil veselinternet vir hele gemeenskap hê
