Meer as ’n kilogram tik, is Woensdag tydens ’n klopjag by ‘n Kafee, op die hoek van Adderley- en Russtraat gevind met ’n geraamde waarde van R300 000.
Twee persone op die perseel is gearresteer, en ’n klag van handel in dwelms is teen hulle deur die Oudtshoorn Polisie aanhangig gemaak. ’n Dame, ook op die perseel is met vier Mandrax tablette in haar besit gevind.
Die Hoorn het inligting ontvang dat ’n hond op die perseel geskiet is, en later uitgesit moes word. Luidens ’n verklaring vanaf sers Christopher Spies, woordvoerder van Suid-Kaap Polisie, het hulle wel bewerings ontvang van ’n hond wat beseer is.
’n Pitbull-reun moes van kant gemaak word, nadat hy na bewering deur die polisie geskiet is.
’n Ooggetuie wat anomiem wil bly, het aan Die Hoorn vertel dat hulle net voor 08:00 die oggend verskeie geweerskote gehoor het. “Ek het na die tyd gaan kyk of die honde okay is, want ek ken hulle vandat hulle baba-hondjies was. Ek het Tyson, die reun gekry met skietwonde en dadelik gebel sodat hy gehelp kon word,”
Die hond is veearts toe geneem, maar moes ongelukkig van kant gemaak word.
In nog ’n klopjag in Pearlstraat, is 286 g tik en ’n groot bedrag kontant gekonfiskeer. Twee verdagtes is in hegtenis geneem. ’n Verdere 9 tik-lollies is in Bridgton gekonfiskeer, items wat met tik geassosieer word en ’n groot bedrag kontant. Een persoon is in hegtenis geneem en aangekla van handel in dwelms.
Die operasies is deel van die polisie se poging om dwelms en afsetpunte waar dwelms verkoop word te verwyder en sodoende dwelms van die straat verwyder. (Deur Angelique Erasmus)
R300 000 se Tik gevind by Oudtshoorn kafee
