Marnus – Mnr SA Top 12

Marnus Botha, oud-leerder van Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, is deur na die Top-12 vir Mnr Suid-Afrika 2024. Foto: Louis Daniel Botha Photography

Marnus Botha – Gimmie matrikulant van 2011, en voormalige inwoner van Oudtshoorn is deur na die Top 12 vir Mnr Suid-Afrika 2024.

Botha bly tans in Somerset-Wes saam met sy vrou Marguirite. Hy werk tans by die Stad Kaapstad Munisipaliteit in die Strategiese Beplanning departement.

Daar gebruik hy die kennis wat hy opgedoen het met sy verskeie honneurs en meestersgrade in Stadsbeplanning wat hy verwerf het, by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Botha is in 2023 as een van die Top 30 jong beplanners in Suid-Afrika deur SACPLAN (South African Council for Planners) aangewys.

“Mnr Suid-Afrika is ‘n inklusiewe platform wat mans van Suid-Afrika van alle vlakke van die lewe, agtergronde, status en seksuele oriëntasies verwelkom. Deur die jaarlange proses word die finaliste voorsien van afrigting, mentorskap en wonderlike netwerkgeleenthede om liefdadigheid en hul loopbaan te bevorder,” vertel Botha.

“Ek het vanjaar ingeskryf met die oog daarop om mee te ding om een van ons land se pragtige ambassadeurs te wees,” sê hy.

Hulle neem ook deur die loop van die jaar aan verskeie uitdagings deel, en ontvang dan punte daarvoor, wat dan hul plek op die ranglys bepaal. Vir sy eerste uitdaging moes Botha sowat 5 borge of handelsmerke kry om hom te ondersteun. Een van sy borge is die gewilde Braai Broekies. “Nou kan ek my hande aan my broek afvee by elke braai sonder om eers skuldig te voel daaroor,” skerts hy.

Met die 2de uitdaging moet hy 18 kaartjies van R450 elk verkoop na die Mnr Suid-Afrika Vrouedag wat jaarliks plaasvind. Die funksie word op 17 Augustus by Vodacom World in Johannesburg aangebied, en kaartjies kan by Botha gekoop word. Die prys sluit ’n verwelkomingsdrankie en verversings in.

Skakel hom gerus by 072 410 2481. Of op TicketCrew se webwerf. https://ticketcrew.events/product/mister-sa-womens-day/

Die top 10 word dan ook aangekondig, wanneer hulle die dag saam met inspirerende vroue in besigheid en handelsmerke vier. Die Mnr Heelal nasionale kostuum sal ook vir die eerste keer onthul word by die funksie.

“Ek mik om die Top 10 te bereik, en elke stem vanaf die publiek sal vir my baie beteken,” sluit hy af.

Stem vir Marnus Botha deur die volgende skakel te besoek of druk:
https://www.imperialvote.com/competition/contestant/clv6i44fv000s7nmllxpyd1i6 of by die onderstaande QR kode:

Mia Le Roux het ook verledeweek die Top 12 gehaal in die Mej Suid-Afrika kompetisie, Le Roux is ook ’n boorling van Oudtshoorn, en oud-Struisie leerder.