R19 500 se water bespaar deur herwinningstelsel by karwas

HY het al sowat R19 500 gespaar sedert hy 18 maande gelede ’n waterherwinningstelsel by Super Carwash geïnstalleer het, sê Deon Bosman, eienaar van dié besigheid op Oudtshoorn.

Die koste om dié waterherwinningstelsel te installeer was sowat R15 000, sê hy. “Ek het dus al klaar die uitgawe verhaal en wen nou net verder.”

Bosman het self dié waterherwinningstelsel ontwerp waarmee tot 80 persent van die 60 tot 100 kiloliter water per maand wat gebruik word om
voertuie mee te was, herwin word.

Deon Bosman wat die besigheid saam met sy vrou, Nonnie, bedryf, sê danksy die stelsel herwin Super Carwash sowat 80 persent van die 60 tot 100 kiloliter water wat per maand verbruik word.

“Dit voel vir my dis die regte ding om water te bespaar, nie net weens die droogte op die dorp en in die omgewing nie, maar ook omdat Oudtshoorn in elk geval ’n laereënvalgebied is.”

Bosman sê die besigheid betaal nie op ’n glyskaal vir water soos by die huis nie, maar van die eerste liter af droogtetariewe wat die hoogste tariefskaal per kiloliter is.

Die stelsel bestaan onder meer uit twee 2000 liter tenks, ’n swembadwaterfiltreerder en twee waterpompe. Die water wat opgevang word in die waterput onder die sementblad waar voertuie afgespuit word, word met ’n pomp na die eerste tenk in die stelsel gepomp. Daar sak die ergste onsuiwerhede in die water na die onderkant van die tenk terwyl die water aan die bokant van die tenk na die tweede tenk oorloop soos nog gebruikte water aan die onderkant van die tenk ingepomp word.

Van die tweede tenk word die water deur die waterfiltreerder gepomp na die drukspuite wat gebruik word om voertuie skoon te spuit. ’n Kraan aan die onderkant van die eerste tenk word soos nodig oopgemaak om die water met die onsuiwerhede aan die onderkant van die tenk in die rioolstelsel los te laat.

Be the first to comment on "R19 500 se water bespaar deur herwinningstelsel by karwas"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*