Honderde rou oor geliefde pastoor en jong student

Pieter Hendricks, ’n familielid van die oorledenes, lewer ’n kragtige huldeblyk tydens die begrafnis. Foto: Deon Meyer

DIE Klein Karoo-dorpie Ladismith het Saterdag vir ’n paar uur tot stilstand gekom toe daar hulde gebring is aan ’n gestorwe pastoor en sy broers-kind.

Albei is op Donderdag 27 Februarie 2020 in afsonderlike motorbotsings dood en Saterdag vanuit die saal van die NG Kerk op Ladismith begrawe.
Die dood van Marinique Hendricks en haar oom, past Bennet Julius, ’n paar uur uitmekaar het skokgolwe deur die hegte gemeenskap gestuur.

Past Abraham Delport wat die diens gelei het, het met verwysing na die tragedie wat Ladismith getref het toe Julius tussen Ladismith en Oudtshoorn en Marinique tussen Riversdal en Ladismith noodlottig beseer is, die familie getroos: “Julle is vandag ’n gebroke familie, maar nie vernietig nie. Boeta kyk vandag na sussie.”

Dr Lydia Julius van die VSA, suster van Julius, het vertel dat sy net Suid-Afrika toe gekom het vir Julius se troue en toe Merinique gebore is. “Heel toevallig of was dit toeval?” het sy retories gevra en bygevoeg: “Jesus smiles on you, sister Fiela (moeder van Merinique) and sister Anne (eggenoot van Julius). Marinique and Bennet are safe!”

Past Patrick Stoffels het aan die kinders van Julius gesê: “God is in beheer van lewe. Hy soek mans om sy Woord te verkondig, nie papbroeke nie. Julle pa was so ’n man.”

Pieter Hendricks, ’n familielid, het op sy beurt ’n treffende huldeblyk aan die oorledenes gebring.

Die diens is bygewoon deur talle van Marinique se skoolmaats, geklee in T-hemde met haar foto daarop. (Deur Deon Meyer)