‘Dit het ons oor die virus geleer’

HULLE oorweeg dit nie om terug te keer Suid-Afrika toe nie, sê die Stephen Swigelaar, wat saam met sy vrou Candice en hul twee seuns, Nicolas (11) en Skylar (7), in die stad Dangtu in China woon.

“Ons oorweeg dit nie om huis toe te kom nie. Die koronavirus versprei nou so oor die wêreld, en om eerlik te wees voel ons baie veilig hier. Ons is ook baie gelukkig dat ons skool ons betaal en ons deesdae aanlyn kan klasgee.”

Die Swigelaars is Oudtshoorniete wat in 2018 na China verhuis het waar Stephen voltyds skoolhou, en Candice deeltyds skoolhou en hul twee seuns tuis onderrig. Volgens Stephen is die aantal virusgevalle per dag in China besig om te daal terwyl die aantal mense wat gesond word, styg.

“Maar dit is nog nie heeltemal veilig nie. Al het openbare vervoer weer begin en ’n aantal besighede hul deure geopen, is die skole steeds ge­sluit en moet mense steeds versigtig wees.

“China kwyt hulself baie goed van hul taak om mense kalm te hou en in hul huise te laat bly sodat hulle net uitgaan wanneer dit regtig nodig is.

“Jy kry baie vrywilligers wat uithelp in woonbuurte om byvoorbeeld mense se temperatuur te toets voordat hulle ’n gebou of besigheid ingaan.
Die regering help ook besighede met lenings om hul mense te betaal om hul lewenskoste te dek.”

Stephen sê hulle het geleer dit is te alle tye nodig om te onthou die virus is gevaarlik, omdat iemand dit kan hê en simptome eers na twee weke kan wys.

“Ons het ook geleer dis baie belangrik om die virus so goed as moontlik te probeer inperk. Indien dit op ’n plek uitbreek, moet mense probeer om hulleself so ver as moontlik te isoleer. Ons vermy openbare plekke waar baie mense saamdrom en dra bykans altyd maskers as ons ons tuiste verlaat.

“Ons het geleer dat as iemand hoes, kan daardie kieme nog in die lug hang vir ’n tydjie, en kan iemand die kiem inasem. Die kiem kan ook teen oppervlaktes sit, en daarom is dit baie belangrik om nie aan jou gesig te vat as jy buite is nie.

“Mense hou sommer ’n botteltjie ontsmettingsmiddel byderhand as hul gaan inkopies doen om trollies en inkopiemandjies mee af te vee. Ons vee ook elke liewe item wat ons koop met ontsmettingsmiddel af.

“Jou hande moet gereeld gewas word, jou klere in die wasmasjien gegooi word. Dit mag buitensporig klink, maar dis wat hier in China gedoen word en dit werk. Mense moet saamwerk!”

Stephen sê hulle is in ’n stadium beperk tot net een persoon in die gesin wat elke tweede dag kon uitgaan vir byvoorbeeld inkopies, maar dié verbod is nou gelig. “Maar hulle moedig mense nog steeds aan om nie dit te misbruik nie en steeds te probeer om veilig wees.

“Ons neem die kinders nou en dan uit, maar hulle is so bang vir die virus dat hulle glad nie belang stel nie. Hul verkies om binne te bly.”

Stephen wat op Oudtshoorn grootgeword en gewerk het, sê ook dat inligting oor die virus baie belangrik is en inwoners van die Klein Karoo moet help om mense bewus te maak daarvan.

“Daar is arm mense wat nie eers weet van die virus nie, want hulle het nie toegang tot sosiale media nie. Ont­hou ook, baie mense het nie eers skoon water nie.” (Deur Liesel le Roux)