Protesoptrede op toeristepad

Brandmerke op die teerpad wat by Grootkraal Primêr verby loop en na De Hoek, die Swartbergpas en verskeie gastehuise en wildplase lei, is getuienis van verlede Donderdag se onrus buite die skool toe ouers betoog het teen besluite van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD). Foto: Schalk le Roux

OUERS van Grootkraal UCC Primêr het verlede Don­der­dag­­oggend bande in die pad voor die skool aan die brand gesteek in protes teen ’n besluit van die Wes-Kaapse Onder­wysepartement om die skoolbeheerliggaam te ontbind en nie die waarnemende prinsipaal, Llewellyn Metembo, se kontrak nie te hernu nie.

’n Interim-beheerliggaam asook ’n interim-prinsipaal, Willie September, is by die skool aangestel.

Die ouers is ook ongelukkig met die nuwe busvervoer wat die WKOD vir die leerders gereël het.

Volgens Bronagh Hammond, direkteur kommunikasie by die WKOD, is die beheerliggaam die vorige week in kennis gestel dat dit ontbind word as gevolg van versuim om van sy funksies ten opsigte van gesonde finansiële bestuur uit te voer.

“Die skoolbeheerliggaam het veertien dae om vertoë aan die WKOD te lewer oor waarom dit nie ontbind moet word nie.”

Hammond sê die ontwrigting Donderdag by die skool was ongelukkig en ontstellend.

“Die belange van die leerders word klaarblyklik nie in ag geneem nie.

“Onderwysers van die skool het die dag by die distrikskantoor aan­gemeld nadat hulle na bewering gedreig is toe hulle die oggend die skoolperseel probeer betree het.”

Sy sê daar is tans 273 leerders in die skool met 116 leerders waarvoor die WKOD nou busvervoer na en van die skool gereël het.

Volgens Hammond het die vorige beheerliggaam ander busvervoer vir die kinders gereël, maar was dit vervoer wat nie deur die WKOD goedgekeur is nie.

“Ongelukkig, ten spyte van die leerlingvervoerbusse wat nou deur die WKOD vir leerders beskikbaar gestel word, klim geen leerders op die busse wat voorsien word nie.”

Hammond sê daar word voorts vals inligting versprei dat daar nie verblyf vir leerders op Oudtshoorn beskikbaar is om skole op die dorp by te woon nie.

“Dit is nie akkuraat nie.”

Die Oudtshoorn Polisie en Brandweer was Donderdag­oggend tydens die protesoptrede op die toneel. (Deur Liesel le Roux)