Baie vrae oor 7-jarige se verkoolde liggaam

Die toneel by Ladismith waar die verkoolde lyk van Shintino van Wyngaardt (7, onder) verlede Dinsdag gevind is. Foto: Deon Meyer

DAAR is baie vrae rondom wat gebeur het voordat die verkoolde liggaam van Shintino van Wyngaardt (7) verlede Dinsdag (5 April) op die plaas Hartmansleegte in die Ladismith-omgewing in ’n vlak graf gevind is.

Shintino is Maandag (4 April) deur sy ma, Shanique van Wyngaardt, as vermis by die Polisie aangemeld nadat hy nie teruggekom het huis toe nie ná die naweek wat hy by sy pa, Llewellyn Gelant, gaan kuier het.

Volgens ’n bedroefde Shanique, wat saam met haar seun en ma, Theresa, op die plaas Balmoral in Hoeko, 15 km van Ladismith woon, het Shintino Saterdagaand (2 April) by Gelant gaan oornag. Hy moes Sondag weer huis toe kom, maar omdat die Maandag ’n skoolvakansiedag was, het sy gemeen hy sou dan eers terugkeer huis toe.

Toe sy Gelant egter Maandag kontak, het hy gesê dat hy Shintino “nêrens sien nie”. Sy het daarna die Ladismith Polisie gekontak, volgens haar voor 12:00.

’n 16-jarige seun is na intensiewe speurwerk binne twee dae deur die Ladismith Polisie in hegtenis geneem. Hy het Vrydag (8 April) die eerste keer in die Ladismith Landdroshof verskyn.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het ’n 72-uur-mobilisa­sieplan van die Polisie gelei tot die vinnige inhegtenisneming van die 16-jarige. In dié tydperk is alle beskikbare hulpbron­ne, insluitend spesiale eenhede en kun­di­­ges, ingespan om die misdaadtoneel te fyn­kam en die saak te on­der­soek. Die ondersoek is deur die stasie­kom­missaris van Ladi­smith, lt.kol. Kriel, gelei.

Die verdagte gaan volgens die skoolhoof van Hoeko Primêr, Jarrod le Roux, nie meer skool nie en word tans in ’n fasiliteit vir verhoorafwagtende minderjariges gehuisves.

Le Roux sê die kringbestuurder het sielkundige berading vir die leerders by die skool gerëel.
Kommer oor geweld onder seuns

’n Opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, Quinton Adams, het vandeesweek gewaarsku dat seuns wat ander seuns vermoor toenemend ’n probleem word.

Adams het reeds in 2014 ’n kenner oor geweld tussen kinders, prof James Garbarino van die VSA, betrek by ’n seminaar oor waarom seuns ander seuns doodmaak.

“Die tekens dat ons op ’n epidemie van jeug- en kindermoord afstuur, is reeds jare lank sigbaar. Dit raak toenemend ’n probleem. ’n Onbehandelde getraumatiseerde seun se woede hou groot gevaar in. Ons moet egter nie moed opgee nie, maar reageer en aksie neem,” sê Adams. (Deur Deon Meyer)