As deel van Vrouemaand en die bemagtiging van vroue, het ’n vreedsame protes verlede Donderdag, 31 Augustus, voor die hof in Oudtshoorn plaasgevind.
Daar heers ontevredenheid oor die sisteem van onderhouduitbetalings aan vroue, waar die onderhoud wat mans vir hul kinders moet betaal en afgetrek word vanaf hul salarisse, nie by die vroue uitkom nie.
’n Memorandum wat aan die Landdros oorhandig is, was deel van die oggend se verrigtinge.
“Geld word afgetrek van die man se salaris, maar as gevolg van die sisteem wat agter is omdat daar na ’n nuwe sisteem, die Moya betaalsisteem, oorgeskakel is, kom die geld nie by die kinders se voogde uit nie”, het Ellen Prince, oud-parlimentslid aan Die Hoorn gesê.
“Hierdie probleme kom al van 2016 af en die staat het nie pro-aktief opgetree om dit op te los nie.”
Joey Canarie, raadslid by die Oudtshoorn Munisipaliteit asook die woordvoerder vir geweld teen vroue en kinders, het aan Die Hoorn gesê dat die kinders die enigste partye is wat daardeur benadeel word. “Dis die kinders wat honger ly, hul skoolgelde kan nie betaal word nie en polisse se betalings raak ook agter, wat veroorsaak dat dit dan verval.”
Een van die moeders het ook met Die Hoorn gepraat. “Ek het my kind se pa kom aangee in 2019 vir kinderonderhoud. Die saak kom noú eers voor.
Hy het nog nie een keer vanaf 2019 enige onderhoud aan my kind betaal nie, en die hof sê die heeltyd dat daar fout is met die sisteem”, het Rou-Ann Olieslaag aan Die Hoorn vertel. (Deur Lindi Brill)
Protes teen vertraging van nuwe onderhoudsisteem
Bo: ’n Groep vroue het ’n vreedsame betoging voor die Hof in Oudtshoorn gehou, waar hulle ook ’n memorandum aan die landdros oorhandig het. Foto: Lindi Brill