Ernstige bewerings teen skuiling

Brenden Els (links) en Flip Hendriks nadat hulle Donderdag uit Ithemba, skuiling vir haweloses uitgesit is. Foto: Lindi Brill

BEWERINGS van wangedrag en wanbestuur by die Ithemba skuiling vir haweloses in Oudtshoorn, is onlangs deur inwoners wat daar bly onder Die Hoorn se aandag gebring.

Volgens Richard Wildeman, ’n inwoner by Ithemba, is daar ’n groot probleem met wanbestuur.

Hy beskuldig die bestuurder, Jan Aford wat ook die voorsitter is, teen wie hy die volgende aantuigings maak.

Volgens Wildeman is boeliegedrag een van die grootste probleme, wanneer inwoners kla oor sekere insidente en dan gedreig word om uitgesit te word.

“Daar is mense wat op medikasie is en hul pille na etes moet neem, maar soms word ontbyt eers om tienuur die oggend gegee. As ons dan kla daaroor, word daar op ons geskree en word ons gedreig om uitgesit te word”, vertel Wildeman.

Hy vertel verder dat daar nie ’n be- stuurder aangestel is nie, en beweer dat die voorsitter, Aford, homself in die posisie aangestel het. “Hy maak en breek dan net soos hy wil”.

Daar is ook klagtes van beweerde seksuele teistering vanaf die vroulike inwoners teen die voorsitter, deurdat hy die vroue alleen kombuis toe roep om te help met die voorbereiding van etes, en dan onvanpas optree teenoor hulle.

Daar is egter geen klagtes by die polisie teen Aford gemaak deur die vroue nie.

Die inwoners het ook hul kommer uitgespreek oor donasies wat aan die skuiling gemaak word, en dan nie aan hulle uitgedeel word nie.

“Die weermag het ’n donasie van kos en toiletware aan die skuiling gemaak. Maar daar is net sekere mense wat daarvan kry en die res van die inwoners ontvang niks.”

Wildeman sê dat hy navraag by die weermag gaan doen het oor die skenking, en die aand het die bestuurder al die inwonders ingeroep vir ’n vergadering.

“Ons moes ons selfone afsit sodat ons niks van die gesprek kon opneem nie en daar is gegil en geskree op ons. ’n Vroulike inwoner is ook gedreig met ’n knopkierie deur die voorsitter,”

Die volgende dag is twee inwoners se besittings deur die bestuur buite op die sypaadjie gegooi en hulle is toegang geweier tot die perseel deur Aford, vertel hy aan Die Hoorn.

Volgens die Wes-Kaap regering se norme en standaarde vir skuilings vir hawelose volwassenes mag geen persoon toegang geweier word of uitgegooi word by ’n skuiling nie. Hulle het die reg tot ’n regverdige klagteproses sonder die vrees vir vervolging, asook die reg tot veilige, gereelde en gesonde etes.

Dit stipuleer ook dat die inwoners verantwoordelik is om die reëls te volg van die skuiling en die personeel met respek te hanteer.

Die Hoorn het ook met die bestuur van die skuiling, Jan Aford (bestuurder en voorsitter), Daniel Smit (ondervoorsitter) en Kim Sevens (maatskaplike werker) gaan praat oor die bewerings van Wildeman. Volgens hulle is daar ’n paar moeilikheidmakers in die skuiling wat nie by die reëls hou wat hulle onderteken het die dag toe hulle by die skuiling aangekom het nie.

“Volgens die reëls wat hulle onderteken het, moet hulle help met skoonmaak en onderhoud by die skuiling. Wanneer ons die reëls en dissipline wil toepas, beskuldig hulle ons van “abuse of power,” sê Aford. Op die einde van die dag is dit Aford wat die badkamers skoonmaak en in die tuin werk. “Daar staan ook duidelik in die reëls dat hulle geen drank op die perseel mag gebruik of verhoudings met ander inwoners mag hê nie. Maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Dan is dit ons reg om hulle uit die skuiling te sit”, sê hy.

Hy vertel ook dat hulle nie die skenkings aan al die inwoners uitdeel nie, omdat hulle dit hou vir persone wat daar aankom wat niks het nie. Volgens hom is daar mense wat daar bly wat geld het en nie eintlik in ’n skuiling vir haweloses hoort nie.

Oor die seksuele aantygings sê hy dat een van die vroulike inwoners aantygings teenoor hom gemaak het, maar die volgende dag het sy gehuil en gevra of sy hom om verskoning kan kom vra daaroor.

Aangaande klagtes oor die etes het Aford gesê dat die brood in die oggende opgelaai moet word en dat hulle nie ’n voertuig het nie. “Ek weet soms nie hoe die brood hier moet kom in die oggende nie, en nie een van die inwoners sal ’n plan maak om dit te gaan haal nie. Maar ons het ’n spyskaart van goeie en ordentlike etes wat ons vir hulle gee,” sluit hy af.

Sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie het by navraag aangedui dat daar nie tans ’n saak ondersoek word nie. (Deur Lindi Brill)