OUDTSHOORN se munisipale amptenare het die afgelope paar weke hul hande vol met protesaksie deur ’n groep inwoners en nou ook moontlike regsaksie nadat ’n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder by die polisie ingedien is.
By ’n mediasessie Dinsdag het die uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson dié twee kwessies met die media bespreek.
Swartsakprotes
Die eerste hiervan was die tweede “Swartsakprotes” op Vrydag, 1 September, gereël deur Arno Greyling.
Hope swartsakke is die dag op die grasperk oorkant die munisipaliteit, langs die CP Nel Museum, neergesit. Twee opslaantoilette en selfs ’n keramiektoilet of twee geborg deur ’n plaaslike onderneming, het die protesprentjie voltooi.
Op borde het gesegdes soos “Gee munisipale tariewe jou hardlywigheid” en “Jou toilet te duur? – gebruik gerus” gepronk, wat met ’n pyl na die twee opslaantoilette gewys het. Greyling het ’n hemp gedra met die woorde “#ekissiebangnie” daarop.
“The fight will go on – maak nie saak wat hulle doen nie,” het Greyling ná die protesaksie aan Die Hoorn gesê. Volgens hom nooi hulle steeds die munisipaliteit om “met die mense van Oudtshoorn” te praat omdat hulle “’n oplossing soek en deel wil wees van die oplossing”.
“Ons is egter teleurgesteld dat Noel van Stade, direkteur van gemeenskapsdienste, daar was, maar ons nie kom groet het en homself kom voorstel het nie.”
Korrespondensie tussen Greyling en die munisipaliteit is op een van die Whatsapp-groepe gedeel. In die e-posse word Greyling deur Van Stade bedank vir die “ordelike optrede van die vorige protes”, maar word hy ook gewaarsku dat indien hy sou voortgaan met die beplande aksie op 1 September die munisipaliteit teen hom sou optree. Die munisipaliteit beskou aldus die korrespondensie die aksie as rommelstrooi, wat onwettig is. Greyling word ook gewaarsku dat hy siviel aanspreeklik gehou kan word.
“U word vriendelik, dog ernstig versoek om die aksie van 1 September 2023 te kanselleer en die kantoor van die munisipale bestuurder voor sluit van besigheid vandag, Woensdag 30 Augustus 2023 dienooreenkomstig in te lig,” sluit Van Stade af.
Greyling het Van Stade egter per e-pos ingelig dat hulle wel sou voorgaan met die beplande aksie. Deel van sy antwoord lui, “Die gemeenskap in wie se diens julle staan, wens jou in kennis te stel dat ons wel komende Vrydag, 1 September 2023 ons grondwetlike reg gaan uitoefen om vreedsaam en wettig te protesteer teen die onwettige verhogings (per toilet heffing) asook onbillike belastings en tariewe wat hierdie dorp en sy inwoners op sy knieë gaan dwing.”
Volgens Greyling was Vrydag se protes ’n reuse-sukses en is daar sowat 800 swartsakke deur inwoners afgelaai – ongeveer 300 meer as met die vorige betoging op 11 Augustus. Verskeie inwoners het ook kreatief geraak met hul uitrustings en een het selfs nog ’n toilet kom neersit.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het in ’n mediaverklaring ná die protesaksie gesê dat dit ’n oortreding is om vullis weg te gooi op plekke wat nie daarvoor geoormerk is nie. Sy’t ook gesê die opeenhoping van swartsakke in ’n publieke gebied hou ’n groot gesondheidrisiko in en dat munisipale werkers oortyd moet werk om die vullis te verwyder.
Macpherson het by Dinsdag se vergadering gesê dat sulke gedrag nie verdra of geduld sal word nie. Hy het ook gesê dat dit van kardinale belang is vir die publiek om te verstaan dat enigiemand wat die wet oortree, aanspreeklik gehou sal word. “Hoewel sommige individue glo dat dit hul reg is, is dit noodsaaklik om te erken dat individuele regte nie die regte van ander moet skend nie. As die munisipaliteit sulke gedrag duld, moet ons enige ander onwettige optredes ook toelaat en goedpraat.”
Hy het ook beklemtoon dat daar wel teen Greyling opgetree gaan word en ’n rekening aan hom gestuur gaan word vir beide dae se verwydering van vullis. Die bedrag sal bepaal word deur die mannekrag, oortyd, petrol en munisipale bronne wat gebruik moes word vir die verwydering.
Hy het ook bevestig dat regstappe wat tot moontlike kriminele vervolging kan lei teen Greyling gedoen gaan word “aangesien munisipale grond sonder toestemming betree is en onwettige rommelstorting plaasgevind het”.
Klagte teen munisipale bestuurder by polisie ingedien
In die tweede voorval het lede van OGI (Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief), die PA (Patriotiese Alliansie), Advieskantoor en bestuurslede van Saamstaan verlede Woensdag ’n klag by die Oudtshoorn Polisie gaan lê teen Oudtshoorn se munisipale bestuurder Walter Hendricks. In ’n verklaring wat deur die partye uitgereik is, staan daar ook dat die klag Oudtshoorn se burgemeester en onderburgemeester impliseer.
Die groep staan bekend as Die Blok.
Die klag is gelê deur Saamstaan se president, Abe Prins, Hans Malgas (Saamstaan), Joey Thorne (Advieskantoor), Leon Campher (Oudtshoorn-raadslid, Advieskantoor), Colan Sylvester (Oudtshoorn-raadslid, OGI) en Suzanne Jansen (Oudtshoorn-raadslid, PA).
*Lede van Saamstaan SA wat deel uitmaak van die groep wat die klag by die polisie gaan indien het, is tans nie deel van die huidige Saamstaan-koalisie nie. Die huidige koalisie met die DA is met Veronica Michaels en haar man Schapiro Michaels, president van Saamstaan, wat alleenlik deur die OVK (Onafhanklike Verkiesings Kommissie) tans as party erken word.
Volgens ’n verklaring van die groep hou die klag onder meer verband met die beweerde vervalsing van raadsdokumente om ’n senioraanstelling te omseil. Hulle beweer ook dat munisipale wetgewing oortree is met onreëlmatige aanstellings nadat daar glo gesloer is om die aanbevelings van Anton Bredell, Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, voor die raad te bring.
Nog ’n klagte is dat die nodige prosesse nie gevolg was met die aanstelling ten opsigte van die pos van direkteur van beplanning en ontwikkeling. Verder lees die verklaring dat die munisipale bestuurder en senior politieke leiers hul magte misbruik het deur ’n individu aan te stel in ’n pos waarvoor daar nie begroot is nie.
“Beide gevalle is by die minister aangemeld, maar dit blyk dat geen optrede gevolg het soos in dieselfde tipe geval in Knysna nie, waar daar nie ’n DA-administrasie in beheer is nie.
Volgens wetgewing is die gevalle growwe nalatigheid en die oortreding van wette van toepassing op plaaslike regering. Beide gevalle is ook by die openbare beskermer aanhangig gemaak vir ondersoek,” sluit die verklaring af.Tydens Dinsdag se vergadering het die burgemeester aan Die Hoorn gesê dat dit uiters onverantwoordelik is wanneer besluite, wat reeds deur die raad hanteer en aanvaar is, onnadenkend gebruik word om sake by die polisie aanhangig te maak, veral as die onderwerpe in komitee bespreek is. Volgens hom is die betrokke raadslede bewus daarvan dat dié spesifieke onderwerp waarop die klag gebaseer is rééds reaksie en optrede van die Wes-Kaapse minister ontvang het.
“Enige raadslid, amptenaar of werknemer van die munisipaliteit wat die munisipaliteit in ’n swak lig stel of die vertroulikheid kompromiteer, is teenstrydig met onder andere die munisipaliteit se kommunikasiebeleid. Die munisipale bestuurder sal in hierdie geval genoodsaak wees om die nodige stappe teen die raadslede in te stel, aangesien dit nie die eerste keer is dat van hulle teenstrydig met die gedragskode van raadslede optree nie.”
Sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie het bevestig dat daar Woensdag ’n klag by die polisie ingedien is.
“Daar word ’n klag van bedrog deur die polisie ondersoek, en geen arrestasies is gemaak nie. Die ondersoek duur voort.” (Deur Angelique Erasmus)

Bo en onder: Inwoners het kreatief geraak met hul uitrustings. Foto’s: Lindi Brill
