Dit gaan nie oor die landdros wat Sidney Berry tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis het nie maar oor die regstelsel van Suid-Afrika wat toelaat dat moordenaars op straat loop terwyl mense vir geringe oortredings agter tralies moet sit,” so het, Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) Dinsdagoggend voor die Oudtshoorn landdroshof gesê, tydens ’n plakkaatbetoging voor die hof.
Die betoging is deur, familie en vriende van Marilize Nortier wat op 22 September 2019 in ’n watersloot verdrink het na ’n ongeluk langs die Kango Grotte-pad bygewoon, maar ook ander familielede van vermoordes die afgelope jaar.
Marilize se ouma, Christine Nortier, het met ’n geraamde foto van Marilize gestaan en ook aan die betoging deelgeneem.
Nortier was ’n passasier in die BMW-motor van Sidney Berry (26) wat deur landdros Vaugn Shone aan strafbare manslag skuldig bevind en onder andere vir drie jaar onder huisarres geplaas is.
“’n Gesin het ’n geliefde verloor en sukkel om dit te verwerk terwyl Berry sy lewe kan geniet en nou eintlik lekkerder leef,” het Campher voor die oorhandiging van ’n memorandum en petisie vir hooflanddros, Ryan van Harte, gesê.
Campher het by dieselfde geleentheid ook sy misnoeë teenoor landdros Stephanie Strydom uitgespreek wat hom in die saak van die rugbyspeler, Boutros May, gekritiseer het oor sy optrede na May se dood.
Campher sê Dinsdag se protesoptrede voor die landdroshof gaan oor die “ligte vonnis” wat Berry opgelê is vir die dood van Marilize Nortier. Volgens hom wou Nortier graag eendag ’n verpleegster word en haar droom was om graag na skool met mense te werk, iets waarna sy vreeslik uitgesien het.
Sy was glo ’n verskriklike omgeemens en het altyd gesorg vir regverdigheid. Sy kon wel haar matriekafskeid hou, en dit slegs ’n maand voor haar skielike dood.
Sy het na haar matriekafskeid baie planne gehad vir Desember wanneer sy klaarmaak met skool, iets waarna sy baie uitgesien het maar haar vriende moes dit sonder haar deurmaak.
In die memorandum wat in die afwesigheid van hooflanddros Ryan van Harte aan ’n personeellid, Melanie de Laan, in ontvangs geneem is, word geëis dat die landdros binne sewe dae terugvoering gee.
Van die vrae wat daarin gevra word is of die saak nuut voor landdros Vauhn Shone begin het en of dit nie in die streekhof aangehoor moes word nie.
Nog vrae of die vonnis wat Berry opgelê is gepas en die maksimum vonnis was vir die klagtes.
Die memorandum lui voorts dat siende dat die vonnis van Berry skokgolwe deur die land, sowel as familie en vriende van Marilize in die buiteland gestuur het, wens ons deur hierdie petisie asook opvolgpetisies die departement te versoek om dringend te kyk na hierdie tipe vonnisse asook die regstelsel wat ons gemeenskap daagliks faal.”.
’n Petisie met die handtekeninge van 600 familie, vriende en lede van die gemeenskap wat glo die vonnis van Berry as belaglik beskou, siende Marilize dood is, terwyl Berry se lewe normaal voorgaan, hoewel haar familie met die nodige proses vir appèl sal voortgaan.
Shone het met die vonnisoplegging van Berry gesê dat dit altyd die moeilikste taak vir landdroste is en daar altyd mense sal wees wat ongelukkig is daaroor. En meer so in hierdie saak.
Hy is aan strafbare manslag skuldig bevind omdat hy nalatig bestuur en die ongeluk veroorsaak het. Hy is onskuldig bevind op die klagtes van roekelose bestuur en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen. (Deur Garnett Wicomb)
Protes oor “ligte vonnis” vir Sidney Berry
Links: Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime oorhandig 'n memorandum en petisie aan Melanie de Laan van die kantoor van hooflanddros Ryan van Harte.
Foto: Garnett Wicomb