HONDE – die mens se beste vriend reeds vir donkiejare, of hy saam met jou skape werk, en of sy soos die koningin in die huis behandel word. Honde is reeds vir jare deel van ons huishoudings en ons kan nie ons lewe sonder hul voorstel nie.
In 2021 was daar na beraming sowat 900 miljoen honde op aarde (volgens World Atlas), maar slegs 15% van hierdie totaal is troeteldiere wat in huishoudings aangehou word.
Dit beteken dat troetelhonde vandat hulle gebore word aan ’n wêreld vol reëls en beperkings blootgestel word, wat nie in hul natuurlike aard is nie. En dit is wat tipies kan lei tot meeste “probleme”.
Op ongeveer 8 weke neem ons die oulikste babahondjie huistoe. Die hondjie kan by ’n teler gekoop word, of “gered’’ word by ’n diereskuiling. Soms is dit nie meer ’n babahondjie nie, maar ’n tiener, of ouer hondjie.
Vanaf dag een leer ons die hondjie spesifieke reëls, soos om hul dinge buite te doen. Hierdie hondjies word ook met ’n spesifieke doel gekoop of aangeneem, soms wanneer kinders die huis verlaat om die leë huis weer bietjie lewe te gee, ander moet die huis oppas wanneer ons by die werk is of om te help vee werk op plase.
Dan is daar ook dienshonde, maar daardie honde word geteel en aangeskaf vir ’n spesifieke doel.
Hier is van die probleemgedrag wat ons troetel- honde dalk mag wys:
- blaf sonder ophou
- spring, kou aan alles, grawe van gate
- jaag enige ding wat beweeg (motors, joggies, fietse)
- kerm en tjank
En so kan ons ’n ellelange lys maak. Dit is dus belangrik om jou menshoed opsy te sit en jou hondhoed aan te sit en probeer dink soos hulle “Wat pla my dat ek so optree, en my mense dink dis nie reg nie, want ek het mos nou kos, water en ’n lekker lêplekkie!”
Daar is bewyse dat honde ons emosionele gevoelens kan aanvoel en ook self ervaar. Gevoelens soos vrees, hartseer, woede, opgewondenheid, spelerig-heid is maar ’n paar van hulle. Wanneer daar nie aan hierdie emosies voldoen word nie moet hul dus ’n manier vind om hulself te stimuleer en aandag af te lei, wat tot stoute gedrag kan lei.
Wat moet ons as mense doen? Eerstens, voor jy ’n hond kry (al neem jy een aan), gaan doen navorsing oor die tipe ras wat jy oorweeg. ’n Skaaphond gaan beslis nie werk vir ’n kind wat meer belangstel in sy selfoon of speletjies speel op ’n playstation nie. Wat gaan hy doen om homself besig te hou?
Wat nou van die Yorkie wat heeldag in die huis toegesluit word wanneer sy mense heeldag werk. Sy blaf maar sonder ophou, want dis al hoe sy haarself kan besig hou, en vanaand wanneer haar mense uiteindelik by die huis kom sit hulle voor die TV en sy kry dalk vir ’n uur of twee aandag. En so herhaal die siklus homself, en die bure raak al hoe kwater en meer gefrustreerd want die hond hou nie op met blaf nie. Yorkshire Terriërs is deel van die terriër groep wat spesifiek geteel is om klein diertjies soos muise te jag en uit te grawe. Nou sit hy sonder werk alleen met hoë stres- vlakke.
Ons kry nou dus ’n prentjie hoekom daar ontelbare probleme kan ontstaan. Die goeie manier is dat die oplossing makliker is, en daar kan begin word deur bloot die hond se behoeftes betyds te identifiseer en te vervul.
En as ons vroeg genoeg begin en leer verstaan wat die hond vir ons probeer vertel, gee ons hulle ’n goeie begin in die lewe en bou ons ’n verhou-ding wat voordelig is vir beide partye.
Vroeë hondjie-sosialisering word aangeraai vir ELKE hondjie onder die ouderdom van 16 weke. Na 16 weke is die hondjie ’n “tiener”. Hierdie is ’n hele onderwerp op sy eie en ons kan daaroor ook ’n boek skryf. Mense met tieners, sal goed verstaan.
Sosialisering is NIE dat die hondjie net heeldag speel by ’n dagsorgsentrum nie. Sosialisering behels dat die hondjie aan soveel verskillende oppervlaktes, geluide, mense (manlik, vroulik, volwassenes en kinders), items (sambrele, hoede, voertuie) asook ander diere, in ’n beheerde en positiewe omgewing verken.
Verder sal ’n goeie hondeskool jou leer hoe om jou hond se behoeftes en emosies te identifiseer, te verstaan, en dit op die regte manier te kanaliseer.
Honde is lewende wesens maar sonder morele begrippe soos reg of verkeerd, en sonder ’n geld-waardestelsel.
As ons hulle as sodanig begin sien, hul behoeftes betyds aanspreek en hulle ’n kans gee om hul genetiese doel uit te leef, skep ons baie gelukkiger honde, minder oorvol skuilings, en verminder beslis die meeste probleme wat daar teëgekom mag word.
