Groot meevaller vir versorgingsoord

Bo: Links is Jean van Loggerenberg, Caroline Jansen (Beheerliggaam), Suster Elaine Wagenaar, Joey Nel, Joey McKay en Timothy le Grange. Onder: Jean van Loggerenberg met die panieknoppies van die nuwe klokkiestelsel. Foto's: Lindi Brill

DIE Coronation Memorial Versorgings­oord vir Bejaardes in Bridgton is met groot opgraderings geseën toe ’n barmhartige Samaritaan, Joey Nel, besluit het om R50 000 aan die oord te skenk.

Nel het die oord gekies nadat haar vriendin, Joey McKay, wat lank vir Kansa gewerk het en nou haar eie liefdadigheidspassie uitleef, haar vertel het van die oord.

“Joey het my gebel en gesê ek moet haar help omdat sy graag ’n skenking wil maak aan ’n instansie. Met my betrokkenheid by Coronation het ek dadelik geweet dit is waar die hulp benodig word. Ek het dadelik ingeklim en begin rondbel,” het McKay aan Die Hoorn vertel.

McKay het ’n behoeftebepaling gedoen en die teerpad op die perseel, wat gebruik word vir aflewerings, was eerste op die lys. Dit was heeltemal uitgery en plek-plek verspoel.

Sy het vir Hugo van der Berg van Van Der Berg Vervoer gekontak om haar met raad by te staan. “Hugo het kom kyk na die pad en vir my gesê dat hy en sy broer, Danie, die pad vir ons sal regmaak, maar dat hulle net eers moes wag tot die pad droog is.

En nou die dag bel hy my en sê vir my dat die pad klaar is en dat hy en Danie besluit het om dit op hul eie onkoste te doen! Hulle het ons nie ’n sent gevra nie”, het McKay gesê.

Die volgende behoefte van die inwoners wat aangespreek is, was om vir hulle laaikaste in hul klerekaste in te bou, aangesien daar net plek was om klere te hang. Dit het veroorsaak dat baie van hul klere in swartsakke onder die beddens gebêre is, wat moeilik vir die bejaardes was om uit te haal.

Daar is ook ’n nuwe klokkiestelsel vir die inwoners geïnstalleer. Jean van Loggerenberg en Timothy le Grange van Tech-Connections het die stelsel teen ’n baie billike R22 000 geïnstalleer.

“Dit is ’n koordlose stelsel waar elke inwoner in die siekeboeg ’n paniekknoppie kry wat hulle orals kan saamdra, selfs wanneer hulle buite rondbeweeg. Wanneer ’n inwoner val of in nood verkeer en die paniekknoppie druk, gaan ’n alarm af in die personeel se kantoor. Om die alarm te deaktiveer moet die personneellid ’n kode indruk. Die stelsel tel dan op wie die noodroep beantwoord het,” het Van Loggerenberg verduidelik.

Volgens McKay sal die oorblywende geld met oorleg aangewend word om nog verdere verbeteringe aan te bring.

Nel het haar dank uitgespreek aan almal wat tot dusver gehelp het met die projek. (Deur Lindi Brill)