Prominente raadslid van Oudtshoorn bly in tronk

“DIE hof bevind dat dit nie in belang van ge­regtigheid sal wees dat borgtog aan die applikant toegestaan word nie, en daarom word die aansoek van die hand gewys.”

So het landdros Stephanie Strydom Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof gesê in die borgaansoek van die 40-jarige raadslid van die Groter Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy op 27 September vanjaar ’n 37-jarige vroulike werk­nemer van die munisipaliteit in sy kantoor betas het nadat hy glo die deur gesluit en haar ’n beter pos aangebied het.

Hy is sedert 2 Oktober toe hy in hegtenis geneem is, in aanhouding.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die hof versoek om nie borgtog toe te staan nie omdat die applikant nie borgvoorwaardes in ’n verkrag­tingsaak wat op 4 Oktober van die hofrol verwyder is, nagekom het nie.

Hy het volgens haar die beweerde misdaad waarvoor hy nou in die hof is, gepleeg terwyl hy nog op borgtog was.

Die staat het aangevoer dat die aangeklaagde ’n geneigdheid toon om seksuele misdrywe te pleeg en staatsgetuies sal probeer beïnvloed. Hy is in 2013 ook skuldig bevind aan die seksuele aanran-ding van ’n onbekende vrou. Jordaan sê die staat het ’n sterk prima facie-saak teen die beskuldigde.

Volgens sy regsverteen­woordiger, Jurgen Loff van Liezel Scholtz Pro­kureurs, is hy nie ’n vlug­risiko nie. Hy het nog niemand gedreig nie en bewys dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan word.

Die ondersoekbeampte, ao Wanita Uys, wat ook borg­tog teengestaan het, het getuig dat die beskul­digde nie sy samewerking gegee het toe hy gesoek is nadat die klagte teen hom gelê is nie.

Volgens haar het die vrou onmiddellik nadat sy daarin geslaag het om uit die beskuldigde se kantoor te kom, baie emosioneel ’n vrou buite die Burgersentrum van die voorval vertel, en ’n klag gaan indien. In haar haas om uit sy kantoor te kom het sy haar handsak daar vergeet.

Die beskuldigde het volgens Uys ook aan haar gesê dat dit nie sy plig is om na haar te kom nie, maar haar werk is om na hom te soek.

Hy is uiteindelik in ’n woning in Dassieweg in hegtenis geneem waar hy volgens sy borgvoorwaardes in die verkragtingsaak nie mag gekom het nie.

Volgens Uys is die klaer bang vir die beskul­dig­de.

Die landdros het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan die applikant toe te staan nie. Sy het daarop gewys dat hy tereg staan op ’n skedule 5-misdaad en daar ’n sterk waar­skynlikheid is dat hy in die lig van sy optrede in die hof en met sy inhegtenisname die kriminele regstelsel sowel as die borgstelsel in gevaar sal stel.

Die hof het ook kommer uitgespreek oor sy die weergawe dat hy net twee van die vyf voorwaardes in die verkragtingsaak kan onthou omdat die betrokke landdros dit nie aan hom verduidelik het nie. Hy het wel later toegegee dat dit gedoen is.

Die hof het die beskuldigde se versoek dat hy geregtig is op borgtog omdat hy die dorp se tweede burger is, verwerp omdat ’n beskuldigde se status nie in die hof ter sprake is nie. “Almal is gelyk voor die reg,” het die landdros gesê.

Die saak is vir ’n moontlike streekhofdatum uitgestel tot 22 November.
• Luidens ’n verklaring van die kantoor van die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Mapherson, is die wetlike voorskrifte baie duidelik oor die posisie van raadslede wat deur ‘n demokratiese proses verkies is baie duidelik, en kan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ’n raadslid slegs verwyder of ’n vakature verklaar indien ’n raadslid bedank, sterf, sy party hom skors, hy deur die provinsiale minister van plaaslike regering verwyder word of skuldig bevind word aan ’n misdryf en direkte gevangenisstraf van ten minste twee jaar sonder die keuse van ’n boete opgelê word.

“Dit beteken dat die burgemeester, munisipale bestuurder of raad nie oor die bevoegdheid beskik om ’n raadslid wat by ’n regsproses betrokke is, summier te kan verwyder nie.”

Die verklaring dui ook daarop dat medianavrae ontvang is oor ’n moontlike interne ondersoek deur die munisipaliteit, maar dat geen klag oor die beweerde voorval by die burgemeester of die munisipale bestuurder aanhangig gemaak is nie en dat daar dus geen grond vir ’n interne ondersoek nie.” (Deur Garnett Wicomb)